Kruger-myn: AfriForum stamp koppe met omgewingskonsultant tydens openbare vergadering
AfriForum het Woensdag tydens ’n openbare vergadering in Marlothpark skerp kritiek gelewer teen die voortslepende prosedurele fiasko wat die omgewingskonsultant, Kimopax, se omgewingsimpakstudies vir Tenbosch Mining kenmerk. Tenbosch Mining beoog om ’n myn op die Kruger Nasionale Park se voorstoep te open wat volgens die burgerregteorganisasie ernstige en omvangryke implikasies vir die ekosisteem van die grootste nasionale park op die vasteland sal inhou.
AfriForum hou vol dat die proses ondeursigtig is; dat daar deurlopend versuim word om terugvoer op kritieke vrae aan belanghebbende en geaffekteerde partye te gee; en dat die wettigheid van die proses in twyfel getrek moet word omdat Kimopax nie bewys kan lewer van die nodige goedkeuring van die departement van Minerale Hulpbronne en Energie wat die verlenging vir die indiening van die omgewingsimpakstudie formeel toestaan nie.
Gedurende die vergadering is daar ook verskeie vrae gevra oor ooreenkomste wat rakende die mynaansoek aangegaan is. Luidens Kimopax het SANparke en grondeienaars die aansoek om voort te gaan goedgekeur maar kon geen bewys daarvoor lewer nie.
Verder het AfriForum tydens die vergadering aan Kimopax vir bewyse gevra van die departement van Minerale Hulpbronne en Energie se formele toestemming vir die verlengde indiening, maar Kimopax kon dit nie lewer nie. AfriForum sê voort hy staan gereed om regstappe in te stel indien die proses nie volgens die voorskrifte van die wet gevolg word nie.
Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake, is dit reeds die derde keer wat die omgewingsimpakstudie gesirkuleer word. Dié weergawe bevat egter dieselfde kritieke foute en weglatings as vorige weergawes.
Die voortdurende versuim om tekortkominge reg te stel, is ’n oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998 én 2014 se regulasies oor Omgewingsimpakstudies, meen AfriForum. Luidens regulasies 40 en 41 moet openbare deelname betekenisvol wees, alle relevante inligting moet aan belanghebbende en geaffekteerde partye beskikbaar gestel word en die proses moet prosedureel billik wees en aan voorgeskrewe tydlyne voldoen. Dié vereistes word egter nie nagekom nie.
“Kimopax se onvermoë om fundamentele vrae oor die wettigheid van die proses te beantwoord, wek ernstige kommer oor nienakoming. Baie vrae is steeds onbeantwoord met verskeie studies wat ontbreek, wat die departement van Minerale Hulpbronne en Energie uiteindelik gaan dwing om op onvolledige inligting ’n besluit te neem,” sê De Klerk.
“Dit gaan hier nie net oor die nakom van prosesse wat deur die wet voorgeskryf word nie, maar oor die beskerming van een van Suid-Afrika se mees ikoniese bewaringsgebiede en om te verseker dat die stemme van geaffekteerde gemeenskappe nie gemuilband word nie. AfriForum sal nie huiwer om hierdie saak hof toe te neem indien nodig nie,” sluit De Klerk af.
AfriForum sal voortgaan om die proses noukeurig te moniteer en met belanghebbende en geaffekteerde partye saam te werk om te verseker dat die oppergesag van die reg en omgewingsbeskerming voorrang geniet bo gebrekkige mynbou-aansoeke.