|

Kommer oor militarisering van Mangaung-verkeersdepartement – ​​AfriForum eis alternatief

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Soundbite: Jacques Broodryk (English)

AfriForum het sy kommer met Sibongile Tsoleli, burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid en Vervoer by die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, gedeel oor die nuutgevonde vennootskap tussen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Mangaung-verkeersdepartement.

Die vennootskap, wat sal toesien dat SANW-lede “dissipline en seremoniële opleiding” aan verkeersbeamptes verskaf, is deur dié burgemeesterskomiteelid verwelkom. AfriForum voer egter aan dat hierdie militêre opleiding in ’n burgerlike wetstoepassingsomgewing onbedoelde, dog ernstige gevolge kan hê. Dit sluit in die vervaging van die lyn van gesag, die verdryf van broodnodige gemeenskapsgebaseerde polisiëring en die moontlike vernietiging van openbare vertroue.

“Die verkeerspolisie is ’n burgerlike funksie wat deur grondwetlike beginsels beheer word, nie ’n militêre teater nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “AfriForum respekteer die SANW en die rol wat hulle in nasionale verdediging speel, maar militêre taktiek en kultuur is nie geskik vir burgerlike wetstoepassing nie. Die regering moet fokus op die bou van plaaslike kapasiteit binne grondwetlike parameters – nie om ’n gemilitariseerde reaksie op stedelike uitdagings op die been te bring nie.”

AfriForum het in sy brief formele verduideliking van die burgemeesterskomiteelid versoek oor die aard en omvang van die SANW se opleiding; duidelikheid oor meganismes om misbruik te voorkom; en gerusstelling gevra dat Mangaung se wetstoepassers sal voortgaan om eerstens die burgerlike samelewing te dien terwyl wet en orde gehandhaaf word.

AfriForum het beklemtoon dat dit as burgerregteorganisasie nie krities is teenoor regeringsinisiatiewe nie, maar bloot verbind is tot die veiligheid en welstand van gemeenskappe. Die organisasie se buurtwag en gemeenskapsveiligheidsentrum in Bloemfontein demonstreer steeds die waarde van gemeenskapsgedrewe veiligheidsinisiatiewe. Hierdie strukture het bygedra tot talle inhegtenisnemings, misdaadvoorkomingsoperasies en gekoördineerde hulp tydens noodgevalle – alles in samewerking met wetstoepassingsagentskappe.

“Ons is meer as gewillig om te help – soos ons reeds doen – deur ons opgeleide buurtwagvrywilligers, radionetwerke en infrastruktuur beskikbaar te stel,” sê Broodryk.

“Die regering moet saamwerk met bestaande veiligheidstrukture van die burgerlike samelewing in plaas daarvan om ’n hardhandige benadering te volg wat die einste gemeenskappe wat hulle wil dien, kan vervreem.”

AfriForum doen ’n beroep op die Mangaung-metro en ander munisipaliteite om samewerkende vennootskappe met gevestigde private en gemeenskapsgebaseerde organisasies aan te knoop. Hiermee saam is dit belangrik dat deursigtigheid, professionaliteit en openbare vertroue in wetstoepassing ten alle tye geprioritiseer word.

Soortgelyke plasings