|

Kinderbeskermingsweek: Byna 1 000 leerders op Bethal leer oor aanlyn gevare

As deel van AfriForum se pogings om die welsyn van kinders te beskerm, het die burgerregteorganisasie se Bethal-tak verlede week saam met die National Centre for Child Protection (NCCP),die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) besoek by drie skole in Bethal afgelê. Dié organisasies het leerders en onderwysers toegespreek oor kinders se aanlyn voetspoor, hul gedrag op sosiale media en algemene boeliegedrag.

Danie van Loggerenberg, stigter en direkteur van die NCCP, het saam met AfriForum en SAVF meer as 900 leerders by Laerskool Marietjie van Niekerk, Laerskool H.M. Swart en Tadashi Akademie toegespreek oor hulle aanlyn bedrywighede en watse toepassings hulle vir moet ligloop. Sekere toepassings is veral populêr onder kinders en word deur kwaaddoeners gebruik om kinders te kry om maklik gesprekke met vreemdelinge aan te knoop. Daar is ook praktiese demonstrasies gedoen om vir die leerders te wys hoe maklik hulle deur vreemdelinge mislei kan word.

Die organisasies het verder daarop gefokus om bewustheid te skep oor boeliegedrag en hoe om in moeilike situasies of omstandighede eerder hulp by onderwysers of ouers te soek in plaas daarvan om dit op ander leerders uit te haal.

Ouers en kinders was ook genooi om ’n gesprek by te woon waar praktiese voorbeelde gegee is van toepassings wat kinders algemeen gebruik. Hulle is gewys hoe gevare dikwels in die vorm van advertensies opduik terwyl kinders op selfone of tablette speletjies speel.

“Meeste van die toepassings word verkeerdelik as kindervriendelik beskou, maar ouers weet nie hoe en waarvoor om uit te kyk nie en dit maak talle kinders ’n sagte teiken. Met die nodige bewusmaking, het beide kinders en ouers die kennis om dié gevare vry te spring,” het Van Loggerenberg verduidelik.

“AfriForum is dankbaar dat die SAVF en die NCCP die geleentheid aan die Bethal-tak gebied het om betrokke te raak by die beskerming van die gemeenskap se belangrikste bate, naamlik ons kinders. Daar is talle gevare wat kinders in vandag se tyd in die gesig staar en AfriForum, as ’n burgerregteorganisasie, sal nie sonder dié belangrike inligtingsessies kinders effektief kan beskerm nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Ondersteun AfriForum by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings