| |

AfriForum-buurtwagte: 14 lede nou ook skietinstrukteurs in Noordstreek

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het die afgelope naweek 14 buurtwaglede as geakkrediteerde skietinstrukteurs opgelei. Die opleiding het in Pretoria plaasgevind en was daarop gemik om lede toe te rus met die nodige vuurwapenkennis en -vaardighede om basiese skietopleiding binne hul eie gemeenskappe te verskaf.

Die nuutgekwalifiseerde skietinstrukteurs is aktiewe lede van verskeie AfriForum-buurtwagte in die noordstreek. Hierdie inisiatief is deel van AfriForum se breër doelwit om plaaslike veiligheidsstrukture te bemagtig deur gespesialiseerde opleiding en gemeenskapsgedrewe kapasiteit uit te brei.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is die langtermyndoelwit om ten minste een skietinstrukteur per buurtwag of plaaslike AfriForum-tak op te lei, om te verseker dat elke gemeenskap toegang tot ’n gekwalifiseerde instrukteur het.

“Hierdie opleidingsprogram, wat in September 2022 van stapel gestuur is, het reeds talle suksesvolle sessies regoor die land opgelewer,” sê Broodryk. “Dit vorm deel van AfriForum se voortgesette pogings om gemeenskappe te help om meer selfstandig en veerkragtig te word. Deur selfverdedigingsopleiding te prioritiseer, stel ons burgers in staat om proaktief op te tree om hul eie veiligheid te verbeter.”

Die kursus, wat deur AfriForum gefasiliteer word, kwalifiseer lede as geakkrediteerde baanbeamptes en basiese skietinstrukteurs. Hierdie opgeleide individue bied hul dienste vrywillig aan mede-buurtwaglede en taklede aan, en help met die organisering en bestuur van skietoefeninge in samewerking met plaaslike leierskap.

Sluit aan by jou naaste AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings