“Kill the Boer” nou internasionaal beveg: AfriForum en Saai vra internasionale sanksies teen Julius Malema in nuwe dossier
Die burgerregteorganisasie AfriForum en die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat dié organisasies die stryd teen die “Kill the Boer”-dreunsang internasionaal verder gaan voer deur lande wêreldwyd nou amptelik te versoek om geteikende sanksies teen Julius Malema, leier van die EFF, in te stel.
Dié organisasies het ook ’n gedetailleerde klagstaat teen Malema, genaamd die Malema-dossier, bekendgestel. Die Malema-dossier, wat nou internasionaal versprei sal word, gee ’n omvattende uiteensetting van onder meer Malema se haatspraak, sy aanhitsing tot geweld, die ernstige bewerings van korrupsie teen hom en voorbeelde van sy uitsprake ter ondersteuning van terreurorganisasies en terreurdade. Die Malema-dossier bevat ook ’n omvattende verslag van adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en sy span rakende die bewerings van korrupsie teen Malema.

Werner Human, ’n lid van AfriForum se direksie, is afgevaardig om die Malema-dossier, tydens sy en Solidariteit se komende besoek aan die VSA, te oorhandig aan kernrolspelers met wie hulle in Washington gaan vergader. AfriForum gaan ook later vanjaar ’n afgevaardigde na Europa stuur om daar steun te werf onder besluitnemers vir geteikende sanksies teen Malema. Saai en AfriForum sal daarbenewens ook plaaslik met verskeie lande se ambassades in gesprek tree rakende optrede teen Malema.
AfriForum en Saai se besluit om Julius Malema se “Kill the Boer”-oproep tot geweld teen Afrikaners en boere internasionaal te beveg, word volgens die organisasies genoodsaak nadat die Konstitusionele Hof in praktyk Malema se aanhitsing tot geweld deur dié dreunsang gewettig het, terwyl pres. Cyril Ramaphosa steeds volstrek weier om hierdie bevordering van haat te veroordeel.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, sal dié organisasie sy jare lange doel voortsit om te verseker dat Malema nie net plaaslik vervolg word nie, maar dat sy dade ook internasionaal aan die kaak gestel word sodat hy ook in die buiteland die gevolge moet dra.
Dr. Theo de Jager, uitvoerende direkteur van Saai, benadruk dat plaaslike boere onder ernstige druk gebuk gaan. “Die boeregemeenskap ly al jare lank onder weghol-misdaad op plase, aanhitsing tot geweld soos sigbaar in die ‘Kill the Boer, kill the farmer’-dreunsang en politieke verguising deur drognarratiewe oor gesteelde grond en uitbuiting van arbeid – en dit alles omdat daar geen gevolge vir die opswepers is nie. Die regstelsel het ons tot op die hoogste vlak gefaal. Daarom is die professionele samestelling van ’n misdaaddossier en die internasionalisering van ons soeke na geregtigheid so ’n belangrike stap,” verduidelik hy.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is vol vertroue dat AfriForum en Saai se internasionale versoek om geteikende sanksies teen Malema vrugte sal afwerp. “Die feit dat Brittanje reeds onlangs geweier het om ’n visum aan Malema uit te reik, sowel as die Amerikaanse Magnitsky-wetgewing wat geteikende sanksies kan toepas teen individue wat terreur ondersteun, menseregte skend en korrup is, is ’n aanduiding dat internasionale sanksies teen Malema en ander wat ‘Kill the Boer’-dreunsing ’n sterk moontlikheid is,” voeg Kriel by.
“Om standpunt in te neem teen ekstremiste soos Malema is ’n stryd, selfs al behoort dit nie die geval te wees nie. As jy dit waag om plaasmoorde en die politici wat dit aanmoedig, onder die buiteland se aandag te bring, word leuens oor jou versprei, jy word beswadder en selfs ondersoek op aanklagte van hoogverraad. AfriForum sal egter nie ontsenu of ontmoedig word nie, want vir ons gaan dit nie oor politiek nie; dit gaan oor reg en verkeerd. En 2025 het bewys: Ongeregtigheid sal nie altyd in die verborgenheid gehul wees nie,” sluit Van Zyl af.