Kempton Park-sakelui gaan nuwe hoogtes bereik danksy AfriForum Sakenetwerk
AfriForum Sakenetwerk se nuutgestigte plaaslike sakenetwerk in Kempton Park het verlede week ’n loodskomitee en voorsitter aangewys wat gaan help terugploeg in die Oos-Rand se sakeondernemings. Hierdie sakenetwerk is die sesde plaaslike sakenetwerk wat AfriForum Sakenetwerk vanjaar op die been gebring het, om ’n bestuur te verkies.
Die bestuur is verantwoordelik daarvoor om entrepreneurs van verskillende ondernemings aan mekaar voor te stel, verwysingsbemarking te fasiliteer, die gemeenskap te rugsteun, handelsmerke te versterk en verhoudinge met ander ondernemings in die gebied op te bou.
AfriForum Sakenetwerk se Kempton Park-loodskomitee bestaan uit ses mense, onder leiding van Christiaan Steyn (SteynIP) as voorsitter. Lianca Muller (SteynIP) is aangewys as sekretaris en is saam met Cindy Krog (Craft Braai) deel van die sosiale komitee. Corné Nell (Rocket Boutique Distillery) is aangewys as koördineerder van die sosiale portefeulje, wat saam met die res van die sosiale komitee die maandelikse funksies gaan reël. Jacques van Eeden en Jan Vermaak sal toesien dat aandag gegee word aan entrepreneurs en ondernemings wat mentorskap en opleiding benodig.






Christiaan is sedert die begin van sy eie onderneming, SteynIP, vyf jaar gelede deel van AfriForum Sakenetwerk se projekte. ’n Hele paar kliënte het deur middel van AfriForum Sakenetwerk van SteynIP se dienste gebruik gemaak. Hy glo ’n netwerk is een van die beste maniere om verhoudings te bou en sodoende ’n kliëntebasis uit te brei.
“Die stigting van dié plaaslike sakenetwerk en die aanstelling van ’n bestuur beteken dat ondernemings in Kempton Park van krag tot krag sal gaan,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk. “AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is, so wanneer ’n onderneming floreer, floreer ’n gemeenskap,” sê sy.
Enigeen wat wil inskakel by Kempton Park se sakenetwerk, kan gerus vir Christiaan by 082 657 1148 kontak. Hou AfriForum Sakenetwerk se webblad en sosiale media dop vir meer inligting oor hul afskopgeleentheid.
AfriForum Sakenetwerk bied verskeie voordele aan ondernemings wat by die netwerk aansluit. Behalwe vir die werkswinkels oor finansies, belasting, operasionele sake, administrasie en bemarking, wat teen ’n minimale koste deur Akademia aangebied word, word maandelikse netwerkgeleenthede ook aangebied.
Klik hiér vir meer inligting oor AfriForum Sakenetwerk en sy plaaslike sakenetwerke.