Keimoes-waterwiel weer spogplek danksy dié AfriForum-tak
Keimoes se bekende waterwiel in die kanaal langs die hoofstraat is een van dié Noord-Kaapse dorpie se grootste besienswaardighede, maar word selde deur die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit onderhou. Die AfriForum-tak op die dorp het egter weer ingegryp om die gebied om die waterwiel in iets te omskep waarop inwoners kan trots wees wanneer besoekers dié werkende waterwiel besoek.
Die Keimoes-tak het besluit om die gras aan die sypaadjie op Hoofstraat en by die Waterwiel-monument te sny en die beddings weer in orde te kry. Daar is vullis opgetel en weggery en onkruid wat die plaveisel toegroei is verwyder.
“Dit is ’n jammerte dat die munisipaliteit nie eens die gebied om dié monument behoorlik kan onderhou nie. Ondanks die feit dat die munisipaliteit herhaaldelik daarin faal om sy verpligtinge na te kom, is AfriForum se Keimoes-tak steeds trots op dié dorp en sal alles in die stryd werp om dit te onderhou,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.
Die tak het regdeur Mei en Junie die kanaalwal, waterwiel, aalwyntuin en die openbare toilette skoongemaak en die vullis wat daar gestrooi is opgetel en weggery.
“Die Kai !Garib-munisipaliteit is verantwoordelik vir Kakamas, Kenhardt en Keimoes, maar nie een van dié drie dorpe se vullisterreine, watersuiweringswerke, rioolwerke of teerpaaie is meer op peil nie. Die munisipaliteit reageer ook lank nie meer op AfriForum se versoeke om ’n samewerkingsooreenkoms te sluit nie. Dít is hoekom ’n handjie vol gemeenskapslede self inspring om ’n verskil te maak,” sê Strauss.
Dié lede fokus egter nie net daarop om die gebied te verfraai nie, maar ook om dit te beveilig. Altesaam 23 lede van die AfriForum Grootoog-buurtwag het aan AfriForum se onlangse landswye patrollie deelgeneem en in samewerking met plaaslike wetstoepassers in Keimoes meer as 400 km in patrollies afgelê om die dorp te beveilig.
Sluit vandag by dié AfriForum-tak aan om ’n verskil te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

