Kabeldiefstal: Hier is die feite
Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, beantwoord tien kritieke vrae oor koperkabeldiefstal.
As deel van AfriForum se fokus op gemeenskapsveiligheid ag die organisasie se 177 buurt- en plaaswagte oor die hele land heen ook die bekamping van kabeldiefstal as ’n noodsaaklike funksie. Die organisasie ontwikkel tans ’n opleidingsmodule om sy buurt- en plaaswaglede te bemagtig met die nodige kennis om hierdie omvangryke misdaad doeltreffend te kan pak.

Waar vind kabeldiefstal veral plaas?
JB: Kabeldiefstal is ’n landwye probleem, maar dit kom veral gereeld voor in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en Mpumalanga. Hoërisiko-infrastruktuur sluit in spoorlyne (van Transnet en Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, Prasa), Eskom-lyne, munisipale infrastruktuur en nywerheidsgebiede. Strukture naby informele nedersettings word veral geteiken. Kabels word gesteel van verskeie instellings, insluitende Eskom, Transnet, Prasa, munisipaliteite en privaat eiendomme (soos plase en fabrieke).
Watter soort kabels is die teiken?
JB: Die mees gesogte soort kabels in die visier van diewe is koperkabels vanweë die hoë herverkoopwaarde daarvan. Aluminiumkabels word ook soms gesteel, maar in kleiner hoeveelhede. Daarbenewens word kabels wat in telekommunikasielyne (van maatskappye soos Telkom en Vumatel) gebruik word, ook dikwels gesteel.
Wat is die jaarlikse finansiële impak vanweë kabeldiefstal in Suid-Afrika?
JB: Die ekonomiese impak van kabeldiefstal is reusagtig. Eskom rapporteer jaarliks meer as R2 miljard se verliese, terwyl Transnet in 2022 meer as R1,6 miljard se verlies weens kabeldiefstal aangemeld het. Meer as 20 000 gevalle word landwyd per jaar aangeteken. Die algehele ekonomiese impak – insluitend indirekte koste – beloop na raming jaarliks tussen R7 miljard en R10 miljard.
Is die skade net finansieel of is daar ander gevolge ook?
JB: Die gevolge van kabeldiefstal strek veel wyer as net die finansiële aspek daarvan. Kragonderbrekings beïnvloed onder meer ondernemings, huishoudings, hospitale en skole. Treinverkeer word lamgelê en nywerhede stagneer. Die verbranding van kabelomhulsels veroorsaak lugbesoedeling. Hierdie misdaad kan ook tot lewensverliese lei vanweë elektriese skokke.
Wie is gewoonlik verantwoordelik vir hierdie misdade?
JB: Alhoewel sommige misdadigers opportunisties optree word die meerderheid van kabeldiefstal deur georganiseerde sindikate uitgevoer. Hulle beskik oor voertuie, die nodige toerusting en vermom hulself dikwels selfs as kontrakteurs. In baie gevalle voer die sindikate dié misdade uit in samewerking met korrupte amptenare en skrootwerwe. Die koper word dan plaaslik of internasionaal van die hand gesit. Navorsing toon dat China die grootste aankoper van skrootmetaal uit Suid-Afrika is en dat sowat 85% van skrootmetaal, wat op wettige én onwettige maniere bekom is, uit Suid-Afrika aangekoop word. Sommige sindikate is ook gewapen en bied sekuriteit tydens diefstalle.
Wat gebeur met die gesteelde kabels?
JB: Die kabels word dikwels verbrand om die plastiekomhulsel te verwyder. Dit veroorsaak ernstige lug- en grondbesoedeling. Daarna word die gestroopte kabels, sonder die nodige dokumentasie, aan skrootwerwe verkoop. In sekere gevalle word die kabels gesmelt en as herwinde produkte verkoop, terwyl dit in ander gevalle as afvalmateriaal by informele skrootwerwe opeindig.
Wat doen die owerhede om dié misdaad te takel?
JB: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het spesiale taakspanne op die been gebring en doen ook inspeksies by skrootwerwe. AfriForum en sy buurtwagstrukture speel ’n aktiewe rol in stedelike en landelike gebiede in die bekamping van dié en ander misdade. Transnet se filiaal Transnet Freight Rail beskik ook oor sy eie veiligheidsgroepe, terwyl Eskom GPS-opsporing en alarms op sekere kabelroetes ingestel het om hierdie misdaad hok te slaan. Sommige metropolitaanse munisipaliteite, soos die Tshwane-metro en Stad Kaapstad, het ook hul eie spesialiseenhede op die been gebring om die probleem te takel.
Word kabeldiewe doeltreffend vervolg?
JB: Ongelukkig nie altyd nie. Die skuldigbevindingskoers vir kabeldiefstal is laag. Die howe is oorlaai en ondersoekspanne het nie altyd toegang tot die nodige forensiese hulpbronne nie. Baie oortreders word op borgtog vrygelaat en selfs die minimum strawwe word selde toegepas. Daar is wel ’n paar suksesverhale in die vervolging van kabeldiewe. In een onlangse geval is ’n kabeldief in Junie vanjaar 15 jaar tronkstraf opgelê vir die diefstal van meer as 400 kg koperkabels in Kraaifontein. Dié en soortgelyke suksesse kom hoofsaaklik danksy die werk van gespesialiseerde vervolgingseenhede.
Watter stappe kan gedoen word om kabeldiefstal doeltreffend hok te slaan?
JB: Die implementering en toepassing van streng regulasies vir die skrootmetaalbedryf sowel as ’n verbod op kontanttransaksies vir die verkope van koper is dringende vereistes. Daarbenewens moet intelligensie aangaande dié misdaad sentraal gekonsolideer word om intelligensie van Eskom, SAPD, Prasa, Transnet en plaaslike veiligheidstrukture soos buurtwagte byeen te bring. Voorts moet ’n minimum vonnis van 15 jaar vir dié misdaad ingestel word, gemeenskappe moet bemagtig word met tegnologie soos kameras, sensors en hommeltuie en openbare-privaat vennootskappe moet ontgin en uitgebrei word.
Wat is jou finale boodskap aan gemeenskappe?
JB: Bly waaksaam. Gemeenskapslede is die eerste linie van verdediging en vervul daarom ’n kritieke rol in die bekamping van kabeldiefstal én ander misdaad. Kabeldiefstal raak ons almal en het ’n ernstige impak op ons veiligheid en ekonomie. Daarom is dit noodsaaklik om enige verdagte aktiwiteite dadelik te rapporteer. Individue word aangemoedig om by buurtwagte aan te sluit en sodoende te help om hierdie misdaad te stuit.