|

Hoop wink vir Thabazimbi ná samesprekings met AfriForum oor waterprobleme

AfriForum se Thabazimbi-tak het vroeër vandeesweek met die administrateur van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit vergader oor die voortslepende waterprobleme op dié dorp en antwoorde geëis oor hoe hierdie probleme die hoof gebied gaan word. Nagenoeg 5 miljoen liter (megaliter) water gaan daagliks verlore weens lekkasies op Thabazimbi se waternetwerk. Dit beteken dat die inwoners op dié dorp met slegs 3 megaliter per dag vanaf Magalies Water oor die weg moet kom, asook 6 megaliter vanaf boorgate op die dorp. Dié dorp se behoeftes beloop egter meer as 13 megaliter per dag.

Dié munisipaliteit is in Oktober onder administrasie geplaas nadat dit die afgelope paar jaar gebuk gegaan het onder wanbestuur en gebrekkige dienslewering. Sedertdien is Paul Maseko aangestel om as administrateur te dien om die probleme by die munisipaliteit die hoof te bied.

Tydens AfriForum se vergadering met Maseko het dit aan die lig gekom dat die pyplyn wat water vanaf Magalies Water se pompstasie na Thabazimbi se reservoirs pomp teen Maart volgende jaar ten volle herstel gaan wees. Dié pyplyn en reservoirs is gedurende 2024 gereeld deur AfriForum herstel. Daar is ook met AfriForum meegedeel dat die munisipaliteit besig is om boorgate op die dorp te vervang of herstel om te verseker dat daar genoegsame watertoevoer na inwoners is. Die munisipaliteit gaan eers aandag gee aan die vier boorgate in Thabapark, waarna ’n verdere nege boorgate ook later van tyd herstel gaan word.

Hendrik Kotzé, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê die sogenaamde “watermafia” is ook ’n groot probleem in Thabazimbi, aangesien munisipale infrastruktuur doelbewus beskadig word om water ten duurste aan inwoners te verkoop. Die munisipaliteit gaan egter bykomende watertenkwaens vanaf Bela-Bela en Modimolle inry om water gratis aan mense in Thabazimbi te verskaf en sodoende die watermafia nutteloos te maak.

“Dis verblydend om te sien dat die munisipaliteit, onder administrasie, sekere stelsels en prosesse in plek gesit het om ’n basiese mensereg aan die mense van Thabazimbi te verskaf,” sê Kotzé.

“Daar heers egter steeds kommer oor die dorp se toekoms wanneer die administrasie se mandaat verval en nuwe raadslede weer die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit moet oorneem. AfriForum sal aanhou om hom vir hierdie gemeenskap te beywer en druk op die munisipaliteit te plaas om volhoubaar water aan inwoners te verskaf. AfriForum sal nie toelaat dat die verval van die verlede weer vatplek kry in Thabazimbi nie.”

Water word toenemend ’n groter probleem in Suid-Afrika, daarom is dit noodsaaklik dat mense nie onkant gevang word nie en vroegtydig oplossings vir hul huishoudings vind. Besoek https://afriforum.co.za/wateropname/ om AfriForum te help om die wateruitdagings in gemeenskappe te identifiseer of besoek www.wordlid.co.za om by die Thabazimbi-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings