Hoeveel is ekonomiese groei vir Dihlabeng-munisipaliteit werklik werd, vra AfriForum
’n Plaaslike onderneming in Bethlehem het duidelike brandskade opgedoen nadat ’n rommelhoop, geleë reg langs die onderneming, aan die brand gesteek is en die vlamme buite beheer geraak het. Volgens AfriForum, moet die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit aanspreeklik gehou word vir hierdie skade omdat dit ’n gevolg is van dié munisipaliteit se nalatigheid. AfriForum waarsku al vir jare dat die munisipaliteit se versuim om selfs die mees basiese dienste te lewer, soos vullisverwydering, ’n direkte bedreiging vir plaaslike ekonomiese groei en veiligheid inhou.
Die onderneming, op die hoek van Pretorius- en Commissionerstraat, het skade opgedoen tydens ’n brand wat versprei het weens rommel wat al vir maande op dié hoek ophoop en telkemale aan die brand gesteek word. Dit volg ná AfriForum se herhaaldelike waarskuwings oor moontlike brandgevare.
AfriForum spreek jaarliks tydens gemeenskapsvergaderings ernstige kommer uit oor die opeenhoping van vullis in die sakekern, asook die toenemende sekuriteits- en brandgevare wat dit vir omliggende ondernemings inhou. Ten spyte hiervan bly die rommel op presies dieselfde plekke ophoop, wat AfriForum reeds jare lank aan die munisipaliteit uitwys. Hierdie vullishope het intussen ook ’n toevlugsoord vir sluipslapers geword, wat die risiko verder verhoog. Boonop het die organisasie op 14 November verlede jaar in ’n desperate poging om aandag te vestig op die munisipaliteit se voortgesette versuim om vullis behoorlik te verwyder – veral in die Bethlehem-sakekern – ’n simboliese rommelmonument in Lughawestraat opgerig.
“Gaan die munisipaliteit eers ingryp nadat ondernemings verwoes is of inwoners se lewens in gevaar gestel is? Hoe lank moet die gemeenskap nog betaal vir dienste wat eenvoudig nie gelewer word nie,” vra Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
Die gemeenskap van Bethlehem is geregtig op ordentlike dienslewering van die munisipaliteit – veral aangesien inwoners maandeliks vir hierdie dienste betaal. Vullisverwydering is een van die mees basiese funksies van ’n munisipaliteit en behoort nie ’n struikelblok te wees nie.
Solank die munisipaliteit versuim om sy kern verantwoordelikhede na te kom, bly sogenaamde ekonomiese groei niks meer as ’n leë belofte nie – sonder werklike waarde vir die mense wat hier woon en werk.





