Hoërskoolleerders van Limpopo wys hul staal by Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie
AfriForum se Dink of Sink-span het op 5 September die laaste van ses provinsiale uitdunrondes vir hoërskooldebatteerders by die Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen, Limpopo, aangebied. Die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir hoërskoolleerders het belowende jong debatteerders die kans gegee om hul vaardighede op die proef te stel.
Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteit te bevorder, terwyl dit ook ’n noodsaaklike vaardigheid aanleer wat deelnemers in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.
Altesaam 102 leerders van vyf hoërskole in Limpopo het aan die kompetisie deelgeneem. Die deelnemende skole was Hoërskool Ben Vorster, Hoërskool Pietersburg, Hoërskool Frikkie Meyer, Hoërskool Louis Trichardt en Merensky Landbou Akademie. Gedurende die dag het die 34 spanne elk drie debatte gevoer oor verskeie aktuele onderwerpe in hul verwysingsraamwerk.
“Die leerders het hulself uitstekend van hul taak gekwyt deur met goed voorbereide, logies opgeboude argumente en sterk teenargumente te debatteer. Hulle het selfvertroue uitgestraal met oortuigende lyftaal, helder stemgebruik en ’n passievolle oortuiging in hul standpunte. Dit het duidelik hul vaardighede in debat en kritiese denkvermoë beklemtoon,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek.
Merensky Landbou Akademie (span 1) se Ilana Lubbe, Milan Ferreira en Miané van Veelen is as die wenners in die junior kategorie aangekondig terwyl Hoërskool Ben Vorster (span 2) se Tamera Wepener, Donovan Kachale en Jamie Venter as die naaswenners gekroon is.
In die senior kategorie het Merensky Landbou Akademie (span 1) se Eddie Mostert, Jean de Wet en Luzaan Erasmus koning gekraai terwyl Hoërskool Frikkie Meyer (span 1) se JJ van Wyngaard, Frans Kalp en Niel Gildenhuys as die naaswenners aangekondig is.
“Die hoërskooldebatspanne het ’n merkwaardige vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke ten toon gestel, met standpunte wat deeglik geargumenteer is en selfversekerde optredes. Ons sien met groot entoesiasme uit na hoe hierdie kompetisie verder sal uitbrei en jong debatteerders sal help om hul potensiaal ten volle te ontwikkel,” sluit Müller af.


