|

#HerstelEnVersnel: Ondanks gure weer vul Kathu-tak meer as 70 slaggate in Deben (Dibeng)

AfriForum se Kathu-tak het die afgelope naweek meer as 70 slaggate oor ’n afstand van sowat 5 km in Deben (Dibeng) herstel. Dit ten spyte van koue en winderige weerstoestande en gemiddelde temperature van slegs 16°C op die dag.

Die herstelwerk het begin op Langstraat en gestrek tot net verby die Reisa-aanleg op pad na Kathu. Altesaam 30 sakke teer is gebruik en die projek is ná ses ure se werk deur lede van AfriForum se Kathu-bestuurspan en die Dibeng-buurtwag afgehandel.

Dewald van Vuuren, hoof van projekte by AfriForum se Kathu-tak, het dié projek gelei na aanleiding van die haglike toestand van Deben se paaie. “Hierdie projek gaan daaroor om veiligheid te verseker en ons gemeenskap se lewenstandaard te verbeter. Hierdie pad word daagliks deur talle motoriste en kinders gebruik om werk en skool toe te pendel, daarom is dit belangrik dat dit in ’n bruikbare toestand is.”

In Mei vanjaar het die plaaslike AfriForum-tak slote wat op die grondpad tussen Deben en Hotazel verspoel het weens swaar reën, gehelp herstel. Dié projek is aangepak nadat die Winton Boerevereniging die pad geskraap het om dit meer toeganklik te maak.

AfriForum het intussen ook beswaar gemaak teen die kommerwekkende toestand van die ander paaie in die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit. Die burgerregteorganisasie het in sy kommentaar op die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) daarop gewys dat inwoners van Deben en Olifantshoek gereeld skade aan hul voertuie opdoen weens slaggate en gebrekkige instandhouding aan padinfrastruktuur. Hiermee saam bied die afwesigheid van padlyne, padmerke vir spoedhobbels en rigtingaanwysers ’n ernstige veiligheidsrisiko vir motoriste. AfriForum het die munisipaliteit versoek om dié kwessies in die nuwe begroting aan te spreek.

Soortgelyke plasings