Herontplooiing van Vrystaatse burgemeesters rookskerm om aanspreeklikheid te ontduik – AfriForum
Die herontplooiing van sewe burgemeesters van munisipaliteite in die Vrystaat is volgens AfriForum ’n poging deur die ANC se Provinsiale Uitvoerende Komitee om aanspreeklikheid vir die onbevoegde of korrupte amptenare te ontduik. Die feit dat die beloofde herontplooiing boonop nog nie plaasgevind het nie en sommige van die burgemeesters weier om te bedank, is bewys dat inwoners se reg op dienslewering nie voorkeur geniet nie.
Die burgemeesters van die Masilonyana-, Moqhaka-, Mafube-, Letsemeng-, Nketoana-, Nala- en Lejweleputswa Plaaslike Munisipaliteite is in Augustus verlede jaar geoormerk vir herontplooiing. Dié individue is glo steeds in hul poste terwyl politieke prosesse binne die ANC voortduur.
“Terwyl dié prosesse uitgerek word, stort Vrystaatse munisipaliteite in duie. Inwoners sit met padinfrastruktuur wat verbrokkel, vervalle krag- en waterinfrastruktuur én onbetroubare dienslewering. In plaas daarvan om onbevoegde of korrupte amptenare aanspreeklik te hou, word hulle bloot na ander poste of munisipaliteite verskuif. Hierdie praktyk ondermyn aanspreeklikheid en vererger die reeds kritieke toestand van baie Vrystaatse munisipaliteite,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek.
“Wanneer burgemeesters of munisipale bestuurders versuim om hul pligte na te kom, moet daar gevolge wees. Om amptenare bloot na ander munisipaliteite te verskuif beteken dat die probleem net na ’n ander gemeenskap verskuif word.”
AfriForum het intussen ’n brief aan die ANC se Provinsiale Uitvoerende Komitee in die Vrystaat gestuur waarin die organisasie sy kommer uitspreek oor die party se onvermoë om aanspreeklikheid af te dwing en volhoubare dienslewering te verseker.
Die burgerregteorganisasie het ook ’n petisie van stapel gestuur waarin geëis word dat burgemeesters en munisipale bestuurders wat onbevoeg verklaar is of van korrupsie aangekla word onmiddellik geskors word, eerder as om bloot herontplooi te word.
“Die inwoners van die Vrystaat kan nie verder die prys betaal vir politieke onbevoegdheid nie. Gemeenskappe verdien bekwame bestuur en betroubare dienslewering,” sluit Grobbelaar af.



