|

Groter-Moot-tak spandeer talle ure aan opknapping en beveiliging van omgewing

Die buurtspan en buurtwag van AfriForum se Groter-Moot-tak het gedurende April reusewerk gedoen en sukses behaal om die Moot-gemeenskap te verbeter en beveilig.

Die buurtspan het 251 manure bestee op die bossiekappers, 89 manure bestee met kettingsae en 1,2 hektaar se gras gesny. Hulle het ook slaggate met 21 sakkies teer van 25 kg elk herstel.

Die Groter-Moot-buurtspan het ook die water van al vier sy noodwaterpunte gesirkuleer om seker te maak die water bly skoon, terwyl die watertenk in Villeria ook skoongemaak is.

In ’n poging om die omgewing te beveilig, het die buurt in April 1 159 km in 120 manure gepatrolleer. Altesaam 91 patrollies is suksesvol afgehandel.

Die buurtwag se inligtingsnetwerke het ook tot drie suksesvolle arrestasies bygedra. In die een voorval is twee verdagtes gearresteer vir die diefstal van brandstof by ’n vulstasie in Stormvoëlweg. In ’n ander voorval is drie verdagtes in Kilnerpark in hegtenis geneem wat vermoedelik deel is van ’n huisbraaksindikaat. Hulle was in besit van ’n vuurwapen en gereedskap om by huise in te breek. Verder is een verdagte gearresteer vir poging tot diefstal in Kilnerpark en word moontlik verbind met ander huisbrake.

“Die Groter-Moot-tak is daartoe verbind om ’n positiewe stempel op die omgewing af te druk, hetsy om dit op te knap of te beveilig. Ons is trots op die werk wat ons verrig en poog om elke maand net nog meer te doen om die omgewing te verbeter,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Soortgelyke plasings