Groot-Oog-buurtwag help met arrestasie van verskeie verdagtes in Keimoes
AfriForum se Groot-Oog-buurtwag in Keimoes het ’n besige maar suksesvolle naweek gehad van 14 tot 16 Maart. Dié buurtwag het veral ’n beduidende rol gespeel in die arrestasie van drie verdagtes met betrekking tot ’n huisbraak twee dae voor hul inhegtenisneming. Huisinhoud, wat tydens die inbraak gesteel is, is in die verdagtes se besit gevind.
’n Inwoner het AfriForum se buurtwag op 14 Maart omstreeks 18:15 van die inbraak by sy huis ingelig. Met die buurtwag se aankoms op die toneel, is bevind dat deure en vensters oopgebreek is, terwyl heelwat items uit die huis gesteel is. Die buurtwag het die toneel beveilig en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van die voorval laat weet. Die SAPD het omstreeks 19:25 daar opgedaag en die toneel oorgeneem.
Twee dae later, 16 Maart omstreeks 14:00, het die AfriForum-buurtwag op ’n wenk gereageer van drie verdagtes met vermeende gesteelde goedere in ’n doodloopstraat in Keimoes. Met die buurtwag se aankoms, het die verdagtes elkeen ’n paar sakke by hulle gedra met verskeie items daarin. Die verdagtes kon nie ’n bevredigende antwoord gee vir waar hulle die items gekry het of waarheen hulle op pad is nie. Die SAPD is gekontak en die verdagtes is na die polisiekantoor geneem waar daar bevind is dat die items in hul sakke, dié is wat op 14 Maart tydens die huisbraak gesteel is. Die drie verdagtes is in hegtenis geneem; een van dié persone was ’n gesoekte verdagte vir ’n vorige misdaad.
AfriForum se Groot-Oog-buurtwag het ook drie persone, wat in besit was van dagga en dwelms, aan die SAPD oorhandig. In die eerste voorval op 15 Maart het die buurtwag op ’n verdagte jongman op straat afgekom wat ’n Mandrax-tablet by hom gehad het. Dieselfde dag, omstreeks 23:30, het die buurtwag op die hoofpad na Kenhardt ’n man teëgekom wat twee sakkies metamfetamien, oftewel tik, by hom gehad het. Albei dié mans is aan die SAPD oorhandig. Die volgende dag, 16 Maart omstreeks middernag, het die buurtwag ’n verdagte aan die SAPD oorhandig wat in besit was van daggapille, ’n daggapyp en twee gevaarlike wapens.
“Keimoes en die omliggende omgewing gaan erg gebuk onder die handel en misbruik van verdowingsmiddels. Die polisie het die AfriForum-buurtwag bedank vir hul harde werk en suksesse om inwoners en hul eiendomme te beveilig, asook elkeen wat betrokke was by arrestasies. Ons is baie trots op ons patrollielede en waardeer wat hulle doen vir ons dorp,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.


