|

GOP: Laer-Suidkus se water en rioolnetwerk kort dringend aandag, sê AfriForum

Die AfriForum-tak op die Laer-Suidkus versoek die Ray Nkonyeni Plaaslike Munisipaliteit (RNM) en Ugu Distriksmunisipaliteit (UDM) om Margate en omgewing se onstabiele water- en rioolnetwerke ’n prioriteit in die nuwe finansiële jaar 2025/2026 te maak. Die toestand van sekere strate in verskeie gemeenskappe op die Suidkus is ook ’n teer saak, wat dringende aandag moet geniet. Die tak het op 12 Maart en 19 Maart onderskeidelik hierdie skriftelike voorstelle met betrekking tot dienslewering op die Ray Nkonyeni Plaaslike Munisipaliteit en die Ugu Distriksmunisipaliteit se jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) ingedien.

Ander takke in KwaZulu-Natal het al in die verlede sukses behaal met van sy voorstelle wat in die munisipaliteit se GOP opgeneem en afgehandel is, waaronder een van Vryheid se swak paaie wat herbou is. “Dit is dus belangrik dat takke aan die GOP-proses deelneem om voorstelle in te dien wat sal bydra tot ontwikkeling in hul gemeenskappe,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Dienslewering

Die Suidkus ervaar al vir die afgelope paar jaar gereelde sluiting van strande wat ’n geweldige negatiewe impak op toerisme het. Rioolbesoedeling veroorsaak ook erge implikasies vir die ekonomieë van die dorpies aan die KwaZulu-Natalse suidkus. Sommige ondernemings moes hul deure permanent sluit weens die finansiële implikasies van die voortdurende kansellasie van vakansies. Die rioolbesoedeling is as gevolg van swak instandhouding, daarom moet die twee munisipaliteite pa staan vir sy onvermoë om na die water en riool netwerke om te sien en dit ten volle herstel. Wat die paaie aanbetref, stel AfriForum voor dat dele van die Suidkus se strate – Goodlands-, Mitchell-, Cypress, Stephen-, en Tuckerstraat – herbou word.

Dit is kommerwekkend dat 35% – wat neerkom op ’n waarde van R130,7 miljoen – van die Ugu Distriksmunisipaliteit se gesuiwerde water volgens die ouditeur-generaal (OG) se verslag verlore gaan. “Hierdie verlies kan grootliks aan onwettige koppelings en hoofsaaklik lekkende waterinfrastruktuur toegeskryf word,” sê JP Nel, AfriForum se takvoorsitter vir die Laer-Suidkus.

Besteding

Volgens die OG se verslag was die totale inkomste vir die Ugu Distriksmunisipaliteit R1,68 miljard in die 2022/2023 finansiële jaar, waarvan R572 miljoen deur die munisipaliteit gegenereer was. Die OG verslag wys ook dat Ray Nkonyeni Plaaslike Munisipaliteit se totale inkomste was R1,29 miljard waarvan R821,70 miljoen deur die munisipaliteit gegenereer was. Die Nasionale Tesourie se webtuiste dui aan dat die eiendomsbelastinginkomste vir 2023 Ray Nkonyeni-munisipaliteit R486 miljoen was. Hierdie fondse kom van eiendomseienaars en is vir tipiese nie-faktureerbare dienste soos om slaggate en straatligte te herstel, en sypaadjies en parke in stand te hou.

Die OG-verslag wys dat die twee munisipaliteite tydens die 2022/2023 finansiële jaar altesaam R555 miljoen se onreëlmatige uitgawes aangegaan het. Hierdie is kommerwekkend en AfriForum dring daarop aan dat hier dringend aandag aan gegee moet word.

Luidens die verslag van die OG word daar nie-kompeterende en onregverdige aankope gedoen. Die Ugu Distriksmunisipaliteit het voorts slegs 0,1% van die begroting aan onderhoud spandeer, terwyl die Nasionale Tesourie 8% aanbeveel. AfriForum is bekommerd dat die lae spandering aan onderhoud aan masjinerie en ander toerusting tot die huidige swak dienslewering bydra.

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings