GOP-insette: Instandhouding van elektrisiteitsnetwerk veral van belang in Thembelihle-munisipaliteit
AfriForum se Bo-Karoo-tak het hul skriftelike insette vir die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit se 2025/2026 geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) by die munisipale bestuurder, Kgomodikae Protea Leserwane, ingedien. Die organisasie het veral sy kommer uitgespreek oor die gebrekkige instandhoudingswerk aan die elektrisiteitsnetwerk en die behoefte aan goeie munisipale beplanning uitgelig.
Die organisasie het hierin opgetree namens sy lede in Hopetown en Strydenburg.
Volgens die organisasie lei die ou en swak onderhoude elektrisiteitsnetwerk in dié dorpe gereeld tot kragonderbrekings en beklemtoon dat daar voldoende fondse begroot moet word vir herstelwerk en opgraderings. Daarmee saam doen AfriForum ook ’n beroep op die munisipaliteit om sonkragaangedrewe straatligte te installeer as ’n volhoubare oplossing tydens kragonderbrekings.
Die vullisterreine in hierdie dorpe voldoen ook nie aan die minimum vereistes vir gesonde vullisterreine nie en voldoen ook nie aan omgewingsvereistes nie. Hier vra die organisasie vir verbeterings en beter bestuur.
Voorts verwys die organisasie ook na die snelle uitbreiding van informele nedersettings rondom hierdie dorpe en versoek hulle ’n duidelike ruimtelike ontwikkelingsraamwerk en beplanning vir infrastruktuur om by te hou met die behoeftes van die gemeenskap.
Daar moet ook begroot word vir instandhouding en herstelwerk by begraafplase en parke. Die begraafplase in hierdie dorpe is veral verwaarloos wat dit vir die geliefdes van die afgestorwenes byna onmoontlik maak om besoek af te lê by die grafte. Die parke wat deur veral families gebruik behoort te word, word nie behoorlik onderhou nie wat dit ook ’n veiligheidsrisiko maak aangesien booswigte maklik hierdie parke dan kan gebruik as wegkruipplek.
Padinfrastruktuur laat veel te wense en die tak spreek veral hul kommer uit oor die hoeveelheid slaggate, gebrek aan padmerkers en padtekens wat gesteel word en nooit vervang word nie. Uit die aard van die saak is daar verskeie risiko’s vir padverbruikers wat met die tekorte aan instandhouding gepaardgaan.
Die tak het ook ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om aandag te skenk aan die algehele netheid van die dorp en om te begroot vir publieke geriewe soos voldoende, higiëniese openbare toilette. Die tak het ook aanbeveel dat die munisipaliteit ’n weeklikse skoonmaak- en ontsmettingskedule opstel en daarby hou.
“Die Grondwet vereis dat munisipaliteite gemeenskapsbetrokkenheid moet aanmoedig. Die GOP is dus ’n belangrike dokument wat die lewensgehalte van inwoners beïnvloed en waarop die gemeenskap insette behoort te lewer. Daarom het ons dit nodig geag om namens die gemeenskap betrokke te raak,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
“Ons vertrou dat die gemeenskap hierdie insette werklik ter harte sal neem en ook die gemeenskapslede te betrek soos dit deur die plaaslikeregeringsregulasies vereis word,” sluit Smit af.
AfriForum moedig alle inwoners aan om hulle by plaaslike strukture te betrek en saam te werk aan ’n skoner en veiliger Hopetown en Strydenburg.