|

GOP: Gemeenskapsveiligheid en lewensgehalte van kardinale belang – AfriForum

AfriForum se Krugersdorp-tak het omvattende en noodsaaklike insette op die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) gelewer. Hierdie insette spruit uit die gemeenskap se regstreekse ervaring van vervalle dienslewering en strukturele wanbestuur.

Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder aan die Wes-Rand, spreek die organisasie se insette tot die kern van gemeenskapsveiligheid en lewensgehalte.

AfriForum het die volgende insette op Mogale City se GOP gelewer:

1. Watervoorsiening: Verskeie dele van Mogale City ervaar gereeld watertekorte weens infrastruktuur wat nie onderhou word nie, wanfunksionele pompe en onverwagse kragonderbrekings. Dit raak onder meer Noordheuwel, Krugersdorp-Noord, Krugersdorp-Sentraal, Monument, Tarlton, Oatlands en West Village. Die voortdurende onderbrekings hou gesondheidsrisiko’s in en skend inwoners se basiese menseregte – skole moes selfs al sluit weens ’n gebrek aan water.

In gebiede soos Krugersdorp-Noord, West Village en die sentrale sakekern is daar ook gereelde waterpype wat bars, wat lei tot massiewe watervermorsing. Die infrastruktuur in hierdie gebiede moet dringend vervang word.

2. Straatligte: Die swak instandhouding van straatligte veroorsaak dat padgebruikers en inwoners se veiligheid in gedrang is. Belangrike verkeersroetes soos Viljoenstraat, Robert Broomweg, Sterkfonteinweg, Voortrekkerweg en Rustenburgweg is al vir maande lank sonder werkende straatligte ten spyte van inwoners se herhaalde klagtes aan raadslede en die stadsraad.

Die gevolg is ’n toename in huisbrake en motorongelukke. Die gemeenskap eis dat die stadsraad hul verantwoordelikheid nakom en straatligte herstel om openbare veiligheid te verseker.

3. Parke en kruisings: Die munisipaliteit se versuim om gras by parke en kruisings te sny, beperk bestuurders se sigbaarheid. Dit is veral opvallend op roetes soos Robert Broomweg, die R28, Voortrekkerweg, Van Oordtstraat en Rustenburgweg.

Hierdie onverantwoordelike nalatigheid het reeds tot verskeie ongelukke gelei. Die situasie verg onmiddellike optrede om verdere lewensverlies of beserings te voorkom.

4. Padmerke: Daar is skaars sigbare padmerke op Krugersdorp se paaie, wat al byna verskeie ongelukke veroorsaak het.

AfriForum het versoek dat die volgende roetes se padmerke dringend oorgeverf word: Van Riebeeckweg (Krugersdorp-Noord, Munsieville en Protea Ridge), Sterkfonteinweg, Viljoenstraat, Robert Broomweg, Voortrekkerweg en Van Oordtstraat.

5. Kragonderbrekings: Gemeenskapslede in gebiede soos Krugersdorp-Noord, Rant en Dal, Wentworthpark, Oatlands, Wildtuinpark en Krugersdorp-Wes ondervind gereelde kragonderbrekings as gevolg van sabotasie, diefstal van infrastruktuur en vandalisme. Hoewel departemente dikwels vinnig reageer op klagtes, is dit belangrik dat die publiek ingelig word oor watter langtermynoplossings beplan word om hierdie krisis te stuit.

AfriForum verwelkom samewerking tussen die stadsraad, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, gemeenskapsveiligheidsnetwerke en privaat sekuriteit in dié verband, maar versoek ’n strategiese aksieplan van die stadsraad self.

6. Rioolbestuur: In gebiede soos Brickvale (Tarlton), Krugersdorp-Noord en Rant en Dal is riool wat oorloop ’n daaglikse probleem. Die gebrek aan behoorlike instandhouding van die rioolstelsel hou ernstige gesondheidsgevare vir inwoners in.

AfriForum eis dat die munisipaliteit dringend ’n volhoubare aksieplan implementeer om die rioolprobleme op te los en die omgewing te herstel.

“AfriForum se Krugersdorp-tak sal aanhou om druk op die munisipaliteit toe te pas sodat inwoners nie langer aan vervalle dienslewering uitgelewer is nie. Ons sal ook volhou met deelname aan platforms soos die GOP om die stem van die gemeenskap op rekord te plaas,” sluit Blignault af.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings