Water
|

Gevolgebestuur nou noodsaaklik om MRK-bevindings oor waterkrisis ‘tande te gee’ – AfriForum

Doeltreffende gevolgebestuur in munisipaliteite is nou volgens AfriForum noodsaaklik as antwoord op die grootskaalse verval van water- en sanitasiedienslewering wat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) vandeesweek in ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee vir Water en Sanitasie blootgelê het. AfriForum se ondervinding van verval strook met die MRK se bevindinge, maar die burgerregteorganisasie waarsku dat meganismes om wanpresterende munisipaliteite tot verantwoording te roep – selfs in gevalle waar hofbevele uitgereik is om ernstige probleme soos rioolstorting reg te stel – tans oneffektief blyk te wees.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, moet die toepassing van gevolgebestuur, wat onder meer die instel en volg van prosesse en meganismes behels om die nakoming van wetlike verpligtinge te bestuur, in belang van verantwoordbaarheid geskied.

AfriForum verwelkom die MRK se ondersoek na die skending van menseregte op toegang tot skoon water en ’n gesonde omgewing weens die gebrek aan water- en sanitasiedienslewering in groot dele van KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en die Vrystaat. Probleme wat uitgewys is, sluit onder meer in, ’n tekort aan kennis en tegniese vaardighede in die bestuur van water- en rioolinfrastruktuur; onvoldoende investering in die instandhouding van infrastruktuur; swak finansiële dissipline; die verontagsaming van wetlike verpligtinge; en die rol wat korrupte amptenare en die watermafia in diefstal en sabotasie van infrastruktuur speel.

Die organisasie hou egter vol dat die toesighoudende rol wat die provinsiale en nasionale regering veronderstel is om te vervul, ondoeltreffend is omdat dit geen gevolge vir wanpresterende munisipaliteite inhou nie. “Die herstel van die land se waterkrisis vereis aktiewe betrokkenheid van gemeenskappe én die onafhanklike bestuur van waterdienste. Die feit dat die burgerlike organisasies die howe moet nader wanneer munisipaliteite blatant hul wetlike verpligtinge verontagsaam en dan boonop nog moet kontroleer of hofbevele nagekom word, is tekenend van die algehele gebrek aan gevolgebestuur,” benadruk De Vaal.

Gevallestudie: Belfast (ook bekend as eMakhazeni)
Die dringende behoefte aan doeltreffende gevolgebestuur, is onder meer duidelik in AfriForum se jarelange stryd om die rioolkrisis in die Hoëveldse dorp Belfast te beredder. In dié geval het die dorp se rioolinfrastruktuur reeds tot so ’n mate in duie gestort dat groot hoeveelhede riool, weens stukkende pompstasies, nooit die rioolsuiweringsaanleg bereik nie. In gevalle waar riool wel tot by die rioolsuiweringsaanleg gepomp word, vind geen verwerking plaas nie omdat die aanleg geheel en al wanfunksioneel is. Derhalwe het grootskaalse besoedeling reeds vir die afgelope bykans 10 jaar gevolg en vloei onbehandelde riool steeds deur woonbuurte en in vleilande.

Sedert Junie 2021 het AfriForum telkens met die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit, waarin Belfast val, geskakel om druk op die munisipaliteit toe te pas om die dringende herstel van die rioolsuiweringsaanleg sowel as die foutiewe rioolnetwerk te prioritiseer. Nadat al dié remedies uitgeput was, het AfriForum die hof weer in Februarie 2024 genader om die Emakhazeni-munisipaliteit te dwing om hul verpligtinge teenoor die gemeenskap na te kom. Op 31 Oktober 2024 het die Hooggeregshof in Mpumalanga die munisipaliteit beveel om teen 13 Desember 2024 ’n omvattende aksieplan aan AfriForum voor te lê, waarin die beplande opgradering, bestuur en beveiliging van die betrokke pompstasies en rioolsuiweringsaanleg duidelik uiteengesit word.

Hierdie plan moes gedetailleerde inligting bevat rakende die herstelwerk, modernisering en volgehoue operasionele bestuur van die fasiliteite, tesame met ’n realistiese en uitvoerbare tydlyn vir die voltooiing van die werksaamhede. Tot op hede is sodanige plan egter nie oorhandig nie en gaan die besoedeling in dié dorp steeds onverpoos voort.

Die hofbevel bepaal voorts dat alle nodige opgraderings en herstelwerk binne ’n tydperk van 60 maande voltooi moet wees. Die munisipaliteit is verder gelas om tydelike noodmaatreëls te implementeer ter voorkoming van voortgesette besoedeling totdat die volledige herstel van die pompstasies afgehandel is. Daarbenewens is die munisipaliteit verplig om twee-maandelikse vorderingsverslae aan AfriForum te lewer, waarin die status van die werksaamhede en enige moontlike afwykings van die beplande tydraamwerk uiteengesit word.

’n Ter plaatse inspeksie wat AfriForum op 7 Februarie vanjaar gedoen het om te bepaal of daar wel aan die hofbevel voldoen word, boesem nie veel vertroue in nie. Hoewel dit blyk asof daadwerklike stappe uiteindelik gedoen word om die rioolinfrastruktuur te herstel, gee die munisipaliteit steeds nie ten volle uitvoering aan die hofbevel nie.

Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, sê ná jare se verwaarlosing, verwelkom die gemeenskap die herstelwerk wat die Emakhazeni-munisipaliteit reeds aan twee pompstasies gedoen het, asook die positiewe tekens dat verdere herstelwerk by die Glisa- en Old Madala-pompstasies eersdaags aanvangs sal neem.

“Nietemin, is ons steeds bekommerd oor die munisipaliteit se verontagsaming van die hofbevel,” benadruk Van Heerden. Volgens hom heers daar ’n onwilligheid om met deursigtigheid met die gemeenskap te kommunikeer en daar is ook ’n algehele gebrek aan sekuriteit by die pompstasies, wat dit uiters kwesbaar laat teen vandalisme. “Dit sal ’n jammerte wees as miljoene rande se herstelwerk ongedaan gemaak word deur die munisipaliteit wat die deur as’t ware wawyd oop los vir kriminele. AfriForum onderneem om praktiese maatreëls om hierdie tekortkominge te takel, verder met die munisipaliteit te bespreek.”

Die situasie wat tans in Belfast afspeel, is ongelukkig net een voorbeeld van ’n lang lys hofsake oor gebrekkige water- en sanitasiedienslewering oor die land heen waarby AfriForum tans betrokke is en die algehele gebrek aan gevolgebestuur beklemtoon.

Soortgelyke plasings