|

Gemeenskap bring lig en liefde na Heatherdale-begraafplaas met skoonmaakprojek

AfriForum se Noord van die Berg-tak, in samewerking met vrywilligers, plaaslike ondernemings en kerke, het die Heatherdale-begraafplaas in Akasia op 9 Junie op ’n yskoue Maandagoggend aangedurf. Gras is gesny, bosse is verwyder en rommel is opgetel. Almal het hul deel gedoen – van dié wat swart sakke en brandstof vir die toerusting geskenk het, tot dié wat warm eet- en drinkgoed aangedra het om die koue te trotseer.

“Vanoggend het daar letterlik en figuurlik weer sonskyn op ons geliefdes se grafte geval. Ons is dankbaar vir elke hand wat gehelp het,” sê Juanita van der Walt, sekretaris van AfriForum se Noord van die Berg-tak.

AfriForum se Noord van die Berg-tak beplan nou ’n grootskaalse opvolgprojek met die naam Sonskyn op hul graf. Die dag sal spesiaal afgestaan word aan die mooimaak van individuele grafte. Hierdie projek gaan nie net oor die skoonmaak van grafte nie maar ook oor respek, herinnering en gemeenskapsbou. Die veiligheid van besoekers én die waardigheid van die oorledenes bly ’n prioriteit. Enigiemand wat wil help om ’n geliefde se laaste rusplek te versorg, kan Van der Walt by 082 965 9061 skakel.

AfriForum se Noord van die Berg-tak bedank elke betrokkene wat deel was van die projek. “In ’n tyd waarin die wêreld soms koud en onpersoonlik voel, het hierdie aksie gewys hoe ’n vlam van hoop weer in ’n gemeenskap kan brand,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

AfriForum se Noord van die berg-buurtspan maak maandeliks dele in die noorde van Pretoria skoon. Besoek www.wordlid.co.za om hierdie pogings te ondersteun.

Soortgelyke plasings