Gebrekkige Kruger-mynbou-aansoek kan weg baan vir nóg twyfelagtige projekte – AfriForum
Die indiening van Tenbosch Mining se omgewingsimpakstudie (OIS) vir ’n beoogde mynbouprojek aan die buitewyke van die Krugerwildtuin kan volgens AfriForum in die toekoms ’n gevaarlike presedent skep vir soortgelyke twyfelagtige aansoeke. AfriForum hou vol dat Tenbosch Mining se aansoekproses deurspek is met ongerymdhede, veral met betrekking tot belanghebbende en geaffekteerde partye (BGP’s) en die openbare deelnameproses.
AfriForum is ’n geregistreerde BGP in hierdie aansoek en het verskeie prosessuele foute geïdentifiseer in die manier waarop Kimopax, die omgewingspraktisyn verantwoordelik vir die aansoek se OIS, die proses hanteer het. Sommige BGP’s is van sekere kommunikasie uitgesluit, terwyl ander partye wel betrokke was. Sulke optrede ondermyn die wetlike vereistes vir deursigtigheid en betekenisvolle openbare deelname soos uiteengesit in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998 (NEMA).
“Die indiening van hierdie gebrekkige aansoek by die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMHE) baan die weg vir nog twyfelagtige mynbou-aansoeke in ekologies sensitiewe gebiede. As ’n aansoek wat deurtrek is met foute en mislukkings ten opsigte van die openbare konsultasieproses, kan voortgaan, wat verhoed ander mynmaatskappye om dieselfde taktiek te probeer?” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.
AfriForum sal nou die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) se standpunt oor hierdie aansoek, asook oor soortgelyke mynbou-aansoeke in beskermde en omgewingsensitiewe streke, aanvra. Dit is van kardinale belang dat DBVO duidelikheid verskaf oor hoe hulle van plan is om hierdie gebiede te beskerm teen vernietigende en onreëlmatige mynbou-aansoeke.
“Dit gaan nie net oor een mynbou-aansoek nie – dit gaan oor die beskerming van die integriteit van Suid-Afrika se omgewingswette. Indien die DMHE hierdie aansoek – wat deurtrek is met foute en prosessuele probleme – goedkeur, sal dit ’n boodskap uitstuur dat ons omgewingswette en -regulasies bloot ’n formaliteit is, eerder as beskerming teen die vernietiging van die omgewing,” waarsku De Klerk.
AfriForum is nie gekant teen mynbou nie, maar beklemtoon dat aansoeke om mynlisensies en omgewingsmagtiging volgens regsvoorskrifte gedoen moet word.
Indien Tenbosch Mining se aansoek sou slaag, is AfriForum gereed om ’n hersieningsaansoek te bring.