AfriForum wens kgosi Mogakolodi Masibi geluk met 30 jaar op die troon
AfriForum wens kgosi Mogakolodi Masibi, kgosi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi van Disaneng, noordwes van Mahikeng, geluk met sy 30ste jaar as kgosi van dié kultuurgemeenskap. Die herdenking van hierdie mylpaal is die afgelope naweek op ’n kleurryke wyse gevier tydens die jaarlikse kultuur- en erfenisfees wat op 26 September in Disaneng gehou is. AfriForum het tydens die geleentheid aan kgosi Masibi erkenning gegee vir sy dapperheid, toegewyde diens aan sy volk en volharding te midde van groot teenspoed.

AfriForum en die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi het in 2023 ’n wedersydse erkennings- en samewerkingsooreenkoms onderteken. Verskeie gesamentlike projekte het sedertdien uit dié ooreenkoms voortgevloei. Die gesamentlike lêhoender-landbou-ontwikkelingsprojek wat in September van stapel gestuur is, is die nuutste toevoeging tot die projekte wat hier aangepak word.


Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, het tydens die naweek se viering namens AfriForum ’n boodskap van gelukwensing aan kgosi Masibi oorgedra. “Kgosi Masibi is ’n dapper, dienende leier wat met toewyding werk om die lewens van sy gemeenskap te verbeter. AfriForum gee graag aan homerkenning vir sy deursettingsvermoë; onder uiters uitdagende omstandighede gee hy eenvoudig nie moed op nie. Leiers met integriteit en mooi harte is presies wat gemeenskappe in ons mooi land nodig het – hierin is kgosi Masibi vir ons almal ’n voorbeeld,” verduidelik Uys.
Kgosi Selabe Mogakolodi Joseph Masibi is op 1 Maart 1996 as kgosi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi gekroon deur kgosi Setumo Montshioa en kgosi Besele II van die Barolong Boora Tshidi. Kgosi Masibi het oor die afgelope 30 jaar as leier van die Molopo-koninklikeleiersorgansiasie, Dikgosi tsa ga Molopo, in die Ngaka Modiri Molema-distrik gedien, asook as lid van die Provinsiale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers in Noordwes. Hy het ook leierskaprolle binne die Congress of Traditional Leaders of South Africa (CONTRALESA) beklee, insluitend as lid van CONTRALESA se nasionale uitvoerende komitee. Hy het ook deelgeneem aan die ontwikkeling van die Wetsontwerp op die Beskerming, Bevordering, Ontwikkeling en Bestuur van Inheemse Kennis. Kgosi Masibi dien tans as president van die Royal Leaders of South Africa (ROLESA).
Uys bestempel die noue vriendskap tussen AfriForum en die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi as kosbaar. “Ons besef dat die voorreg – om naas vriende ook broers en susters in Christus te wees – ’n unieke gawe uit God se hand is wat ons nie as bloot vanselfsprekend beskou nie. Goeie verhoudings en samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe, op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, is ’n voorwaarde vir die voorspoedige, vreedsame naasbestaan van al die verskillende volke hier aan die suidpunt van Afrika en moet daarom gekoester word,” sluit Uys af.



