|

Gauteng-leerders wys hul staal by AfriForum se grootste Dink of Sink-debatskompetisie nog

AfriForum se Dink of Sink-span het op 14 en 15 April 2025 die eerste van ses streeksuitdunne vir AfriForum se gewilde Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir hoërskoolleerders by Hoërskool Montana in Pretoria aangebied. Dié jaarlikse kompetisie het vanjaar ’n nuwe mylpaal bereik met dié dat dit die meeste inskrywings nog gehad het.

Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatskuns op laer-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit ook deelnemers noodsaaklike vaardighede aanleer wat hulle eendag in die werksplek sal bevoordeel.

Altesaam 291 hoërskoolleerders, verteenwoordigend van 47 junior en 50 senior spanne van 14 skole in Gauteng, het aan die kompetisie deelgeneem. Die deelnemende skole was Hoërskool Montana, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Wonderboom, Hoërskool Hartebeespoort, Koster Gekombineerde Skool, Hoërskool Menlopark, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Oosterlig, Hoërskool Noordheuwel, Helpmekaar Kollege, Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria.

Elke span het drie debatte oor aktuele en relevante kwessies gevoer, wat gewissel het van gemeenskapskwessies tot temas wat nasionaal en internasionaal relevant is.

“Die leerders het met soveel energie en entoesiasme die debatte gevoer. Dis indrukwekkend om te sien hoe vinnig hulle kan dink en hoe goed hulle hul argumente struktureer – ’n ware bewys van hul toewyding en talent,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys.

In die juniorkategorie is Hoërskool Waterkloof (span 1) se Elzerie Vermaak, Ilanie Grobler en Ivan Louw as wenners aangewys en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (span 4) se Hanri Hermann, Neyla Dirker en Carlien Wolmarans as naaswenners. In die seniorkategorie is Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (span 2) se Mikayla de Jongh, Dané van Graan en Anja Botha as wenners aangewys, terwyl die  naaswenners bestaan uit Helpmekaar Kollege (span 1) se Danielle Wilkinson, Thea Kotzé en Emile du Toit.

Hoërskool Waterkloof (span 1) se junior span en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (span 2) se senior span dring deur na die nasionale finaal, wat op 27 September in Pretoria gehou word.

“Die uitstekende gehalte van die debatte getuig van die leerders se deeglike voorbereiding en entoesiasme vir dié kunsvorm. Ons sien met groot opgewondenheid uit na ’n spannende nasionale finaal in September, waar die land se beste onvoorbereide debatteerders mekaar die stryd gaan aansê,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings