Fort Klapperkop se tuine met nuwe plante opgekikker
Fort Klapperkop in Pretoria se eens verwaarloosde tuine is iets van die verlede en spog nou met opgeknapte beddings gevul met verskillende jong, nuwe plante. Hierdie gedaanteverwisseling aan die fort-tuine volg nadat AfriForum die afgelope naweek ’n tuinboudag van stapel gestuur het om die fort se terrein tot sy volle glorie te herstel. Die inisiatief is Saterdag 21 November in samewerking met die Vriende van die Groenkloof- en Klapperkop-natuurreservate, die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se museumafdeling en departement van Natuurbewaring aangepak. Gemeenskapslede en vrywilligers het hande gevat om die fort se tuine op te knap en te verfraai. AfriForum beplan om op die sukses van dié inisiatief voort te bou deur in die toekoms weer soortgelyke aksies by dié erfenisterrein aan te bied.
Tydens die tuinboudag, wat van 08:00 tot 12:00 plaasgevind het, is bestaande beddings opgeknap deur onkruid te verwyder en oortollige kleinbloulelei te verdeel en op ander leë kolle in die tuin te hervestig. Daarna is nuwe plante in die beddings geplant volgens die uitleg wat daarvoor beplan is sodat dit visueel treffend sal wees en ook lae instandhouding sal verg. Meer as 500 nuwe plante is aangeplant, waaronder witolienhout (6), geelvuurlelies (5), blouwaterlelies (5), strandblommetjies (25), kransaalwyn (30) buffelsgras (256) en bergrooigras (200). Kompos en deklaag is ook by die beddings ingewerk. Vrywilligers het hul eie tuingereedskap, handskoene en kompos saamgebring om met die opknapping te help. Minstens twintig sakke vol tuinvullis is uiteindelik verwyder.
Die inisiatief het nie net ten doel gehad om die terrein te verfraai nie, maar ook om gemeenskapsbetrokkenheid by die bewaring en instandhouding van geskiedkundige erfenisterreine aan te moedig. Die samewerking tussen die verskillende organisasies en munisipale afdelings het boonop gewys hoe gemeenskappe en plaaslike owerhede gesamentlik ’n praktiese bydrae tot erfenisbewaring kan lewer.
“Die sukses van hierdie tuinboudag wys wat moontlik is wanneer gemeenskappe en verskillende organisasies hande vat om verantwoordelikheid vir ons omgewing en erfenis te aanvaar. Fort Klapperkop is ’n belangrike deel van Pretoria se geskiedenis en dit is bemoedigend om te sien hoeveel mense bereid is om hul tyd en energie op te offer om hierdie besondere terrein te help bewaar. Ons is baie tevrede met wat bereik is en beplan beslis om weer soortgelyke aksies aan te pak,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
Volgens De Vaal is die instandhouding van erfenisterreine ’n deurlopende verantwoordelikheid wat deur samewerking tussen gemeenskapsorganisasies, vrywilligers en plaaslike owerhede versterk kan word.
“Ons wil graag voortbou op die momentum wat geskep is. Die doel is om nie net eenmalig ’n verskil te maak nie, maar om ’n kultuur van volgehoue betrokkenheid by die bewaring van ons erfenis te vestig. Elke tuin wat opgeknap word, dra daartoe by dat toekomstige geslagte ook hierdie geskiedkundige terrein kan geniet,” sluit De Vaal af.
AfriForum bedank die Vriende van die Groenkloof- en Klapperkop-natuurreservate, die Tshwane-metro se museumafdeling en departement van Natuurbewaring, asook alle vrywilligers en deelnemers wat tot die sukses van die tuinboudag bygedra het. AfriForum bedank ook Reynders Venter en Robyn Venter van Golf Data wat die tuinuitleg ontwerp het en plante en kompos verkry het, asook Sunkloof Nursery, wat plante en saailinge geskenk het.
Die organisasie moedig gemeenskapslede aan om ook by toekomstige opknappings- en erfenisbewaringsinisiatiewe betrokke te raak.









