Will for Peace of wil vir moeilikheid? Vlootoefening ontstel bondgenote
Zel-Marí Gelderblom
Suid-Afrika se betrokkenheid by die vlootoefening Will for Peace het ’n storm van kritiek ontketen en dringende vrae laat ontstaan oor die land se buitelandse beleidsrigting. Die Demokratiese Alliansie (DA) het die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, skerp gekritiseer oor sy verdediging van Suid-Afrika se deelname aan die oefening, waartydens gesanksioneerde militêre vliegtuie en skepe, onder meer van Iran en Rusland, in Suid-Afrikaanse waters ontplooi is. Die situasie is verder vertroebel toe die Suid-Afrikaanse vlag tydens die geleentheid onderstebo gehys is, ’n internasionaal erkende simbool van nood of protes. Hoewel dit later as ’n administratiewe flater afgemaak is, het dit simbolies bygedra tot die gevoel van ’n buitelandse beleid in wanorde.
Die DA waarsku dat hierdie optrede Suid-Afrika se grondwetlike verbintenis tot ’n nie-alliansie-benadering ondermyn en die land se internasionale reputasie kan skaad. Verhoudings met demokratiese bondgenote soos die Europese Unie en die Verenigde State word verder onder druk geplaas, veral aangesien Suid-Afrika hom skynbaar toenemend met gesanksioneerde state assosieer. AfriForum deel hierdie kommer en voer aan dat die regering se internasionale optrede besig is om los te raak van grondwetlike waardes soos vrede, samewerking en respek vir die internasionale reg.
Hierdie spanning het op 10 Januarie 2026 verder toegeneem toe China, Rusland en Iran ’n weeklange gesamentlike vlootoefening in Suid-Afrikaanse waters van stapel gestuur het as deel van die uitgebreide BRICS Plus-inisiatief. Die oefening het volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag op maritieme veiligheid, samewerking en vaardigheidsontwikkeling gefokus, en het toe ook lande soos Egipte, Indonesië, Saoedi-Arabië, Ethiopië en die Verenigde Arabiese Emirate ingesluit. ’n Weermagwoordvoerder, lt.kol. Mpho Mathebula, beklemtoon dat die oefening apolities is en nie teen die Verenigde State gemik is nie.
Nietemin het die Amerikaanse ambassade skerp gereageer op Iran se betrokkenheid en gewaarsku dat dit streeksekuriteit en stabiliteit ondermyn. Die situasie het verder geëskaleer toe ’n dringende ondersoek geloods is nadat dit geblyk het dat pres. Cyril Ramaphosa se opdrag om Iran se deelname te beëindig, nie uitgevoer is nie. Volgens die minister van verdediging, Angie Motshekga, was die opdrag ondubbelsinnig, en ’n raad van ondersoek moet nou vasstel waarom dit geïgnoreer is.
Die vlootoefening het plaasgevind teen die agtergrond van verhoogde geopolitieke spanning tussen die Verenigde State onder Donald Trump en verskeie BRICS Plus-lande. Die DA voer aan dat Suid-Afrika se deelname die land se beweerde neutraliteit uithol en dit blootstel as ’n pion in internasionale magspeletjies. Hierdie kritiek word egter deur die weermag van die hand gewys, met die verweer dat die fokus uitsluitlik op samewerking en maritieme veiligheid val.
Wat egter duidelik is, is dat Suid-Afrika se betrokkenheid by militêre oefeninge saam met gesanksioneerde state nie in ’n vakuum plaasvind nie. Dit het diplomatieke, ekonomiese en veiligheidsimplikasies wat nie geïgnoreer kan word nie. AfriForum waarsku dat hierdie optrede die land se internasionale geloofwaardigheid kan ondermyn en sy strategiese bande met demokratiese state kan verswak.
Die debat rondom Will for Peace wys op ’n groter probleem: die gebrek aan duidelike, deursigtige en grondwetlik gefundeerde riglyne vir Suid-Afrika se buitelandse beleid. As die land werklik ’n geloofwaardige rolspeler op die internasionale verhoog wil bly, sal sy optrede konsekwent moet wees met sy eie waardes en internasionale verpligtinge. Sonder so ’n koersvaste benadering loop Suid-Afrika die risiko om nie as ’n brugbouer vir vrede gesien te word nie, maar as ’n land wat sy bondgenote vervreem en sy eie beginsels verwater.
Zel-Marí Gelderblom is ’n koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela-Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.



