|

Durbanville en Waterkloof stap met louere weg by nasionale Dink of Sink-finaal

Hoërskool Durbanville en Hoërskool Waterkloof het die afgelope naweek koning gekraai by die nasionale finaal van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie. Die finaal is op 27 September by Akademia-Leriba in Pretoria gehou waar die wenspanne vanuit die ses deelnemende provinsies om die nasionale titel meegeding het.

Tydens die finaal het die belowende jong debatteerders weer die geleentheid gekry om hul vaardighede op die proef te stel. Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteit te bevorder, terwyl dit ook ’n noodsaaklike vaardigheid aanleer wat deelnemers in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.

In die junior kategorie (graad 8 tot 9) het Hoërskool Waterkloof se Elzerie Vermaak, Ilanie Grobler en Ivan Louw koning gekraai terwyl Paul Roos Gimnasium se Retief Ferreira, Lian Winckler en Paul du Plessis as die naaswenners aangekondig was.

Junior wenners: Mari-Louise Erasmus, Carien Bloem, Ivan Louw, Ilanie Grobler, Elzerie Vermaak, Nicolene Müller, Alana Bailey.
Junior naaswenners: Mari-Louise Erasmus, Carien Bloem, Retief Ferreira, Lian Winckler, Paul du Plessis, Nicolene Müller, Alana Bailey.

In die senior kategorie (graad 10 tot 12) het Hoërskool Dubanville se Melandi Nabal, Islah Vorster en Tiaan Bierman die goue trofee huis toe geneem terwyl Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria se Mikayla de Jongh, Dané van Graan en Anja Botha as naaswenners uit die stryd getree het.

Senior wenners: Mari-Louise Erasmus, Carien Bloem, Islah Vorster, Tiaan Bierman, Melandi Nebal, Alana Bailey, Nicolene Müller
Senior naaswenners: Mari-Louise Erasmus, Carien Bloem, Anja Botha, Dané van Graan, Mikayla de Jongh, Alana Bailey, Nicolene Müller

Daar het 12 skole van oor die land heen aan die finaal deelgeneem. In die junior kategorie het Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Framesby, Hoërskool Nelspruit, Merensky Landbou Akademie, Paul Roos Gimnasium en C&N Meisieskool Oranje Sekondêr deelgeneem. Debatteerders van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, Hoërskool Pearson, Hoërskool Nelspruit, Merensky Landbou Akademie, Hoërskool Durbanville en Hoërskool Sentraal het in die senior kategorie deelgeneem. Elke span het drie debatte oor verskeie aktuele onderwerpe gevoer.

“Die leerders het hul take met groot vaardigheid aangepak en beïndruk met goed gestruktureerde, deeglik voorbereide argumente en kragtige teenargumente. Hulle het selfvertroue uitgestraal deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ’n opregte entoesiasme vir hul standpunte. Hierdie optrede het hul vermoë om krities te dink en effektief te debatteer duidelik na vore gebring.” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die Suidstreek.

“Ons sien met opgewondenheid uit na die verdere ontwikkeling van hierdie kompetisie en die rol wat dit sal speel in die ontginning van jong debatteerders se volle potensiaal,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf