|

Dra Dinsdag wit vir Dewald, vra AfriForum en gesin van jong slagoffer ná plaasaanval en teregstellingstylskoot

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

Dra Dinsdag wit vir Dewald. Dít is AfriForum en Dewald Beetge se familie en vriende se wens vir dié jong sekuriteitsbeampte wat Dinsdag sy 22ste verjaarsdag in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal in Durban moet deurbring ná ’n wrede plaasaanval twee weke gelede waarin hy in ’n skynbare teregstellingstyl in die gesig geskiet is. ’n Dag van wit is volgens die Beetge-familie en AfriForum daarop gemik om protes aan te teken teen die sinnelose geweld wat die land se landelike gemeenskappe teister.  

Beetge is op 15 Oktober ernstig gewond in die aanval op hul familieplaas buite Melville, tussen Hibberdene en Port Shepstone. Hy het vyf skietwonde opgedoen in die heup, buik, bors en gesig. AfriForum het die aanval en die duidelike wrede aard daarvan veroordeel. Die organisasie meen die residu en brandwonde op Beetge se gesig wys moontlik daarop dat die aanvallers hom in teregstellingstyl wou doodskiet. Hy is tot Donderdag (23 Oktober) in ’n geïnduseerde koma gehou en het verlede week ’n noodoperasie en verskeie toetse ondergaan om die omvang van moontlike breinbeserings te bepaal.

Beetge het die dag van die aanval die verdagtes opgemerk toe hy ná sy skof op die plaas aangekom het. Hy het dadelik sy pa, Karel, gebel. Karel werk as operasionele bestuurder vir dieselfde onderneming as sy seun. Terwyl pa en seun op die foon was, het verskeie skote weerklink. Karel het dadelik na die toneel gejaag waar hy sy seun in ’n kritieke toestand gekry het.

“Hierdie verskriklike aanval beklemtoon weereens die ernstige bedreiging waarmee die landelike gemeenskap daagliks te kampe het. Dit is nie gewone misdade nie – dit is brutale, geteikende dade wat gesinne en gemeenskappe vernietig,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “AfriForum het al herhaalde kere gewaarsku dat die regering se onwilligheid om landelike veiligheid te prioritiseer, tallose lewens in gevaar stel. Hierdie tragedie moet as ’n wekroep dien en môre word ons wekroep in ’n see van wit klere uitgebeeld.”

Die Beetge-plaas was hierdie jaar reeds agt keer die teiken van inbrake en het verliese van meer as R50 000 gely weens dié misdade.

Niemand is nog in verband met die aanval op Beetge in hegtenis geneem nie.

Soortgelyke plasings

Veiligheid