Delportshoop-tak takel nuwe jaar met nuwe ywer
Die AfriForum-tak in Delportshoop het amptelik sy projekte vir 2026 afgeskop toe hy verskeie stormwaterpype en -kanale skoongemaak en bykans 70 slaggate op die dorp opgevul het.
As deel van AfriForum se voortgesette pogings om ’n blywende verskil in Delportshoop te maak, het die tak die afgelope naweek sy aandag op die padinfrastruktuur van die gebied toegespits. Altesaam 68 slaggate is met 250 kg sement en drie ton sand opgevul. Hierdie herstelwerk is gedoen om padveiligheid vir motoriste en voetgangers te verbeter.
Vroeër die maand het die tak ook verstopte stormwaterpype en -kanale aan die hoek van Nel- en Delportstraat aangepak en verdere skoonmaakwerk in Britsstraat onderneem. Hierdie ingryping was noodsaaklik, aangesien die storting van onder meer bourommel die kanale verstop en waterafvoer ernstig belemmer.






“Ongelukkig bly die onwettige storting van tuinvullis op sypaadjies en in stormwaterpype ’n probleem in die area, veral in Nelstraat. Met AfriForum se kennis en die samewerking van inwoners kan hierdie ruimtes skoon en funksioneel gehou word,” sê ’n lid van die gemeenskap.
“Dit is van uiterse belang dat inwoners verantwoordelik optree, hul onmiddellike omgewing skoon hou en hul weerhou om stormwaterpype, -kanale en sypaadjies as stortingsterreine te gebruik. Volhoubare gemeenskapsgroei is slegs moontlik wanneer inwoners én organisasies saamwerk,” sê Ben Venter, ondervoorsitter van AfriForum se Delportshoop-tak.



