| |

Delmas Valke-buurtwag slaan toe op 15 vermeende misdadigers

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het die afgelope maand veiligheid in dié gebied opgeskerp, wat tot die inhegtenisneming van 15 vermeende misdadigers gelei het. Die buurtwag het in samewerking met die Suid-Afrikaanse  Polisiediens (SAPD) verskeie suksesse in die stryd teen misdaad behaal.

Gedurende Januarie is talle inhegtenisnemings gemaak wat verband hou met diefstal, kaping en vandalisme. Hiermee saam het die buurtwag gehelp om op meer as 50 kratte alkohol beslag te lê, asook dwelms wat in mense se besit gevind is. Drie voertuie, waaronder ’n vragmotor wat gekaap is, is ook in hierdie tyd teruggevind.

Benewens die harde slag wat misdadigers toegedien is, het AfriForum se Delmas Valke-buurtwag ook die gemeenskap elders bygestaan. Die buurtwag het gehelp om ’n vragmotor uit te sleep wat ná baie reën in Eloff vasgeval het.

Die buurtwag se mediese span het ook gemeenskapslede in 22 afsonderlike voorvalle te hulp gesnel. Dié span poog om slagoffers van aanvalle en motorongelukke by te staan totdat nooddienste op ’n toneel kan oorneem.

“Delmas is veiliger danksy dié AfriForum-spanne se toegewyde en harde werk. Hulle staan nie terug en wag vir iets om te gebeur nie, hulle soek ’n oplossing vir die voortslepende misdaadprobleem waarmee Delmas geteister word,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

Soortgelyke plasings