| |

Buurtwagte gebruik meer as 20 000 liter water om Laeveld-brande te blus

Die AfriForum-buurtwagte in Nelspruit en Witrivier het die afgelope twee weke ’n aktiewe rol gespeel in die bestryding van verskeie veld- en strukturele brande in die Laeveld. Die buurtwagte het in totaal meer as 20 000 liter water gebruik om hierdie brande te blus.

Die brande kan grotendeels toegeskryf word aan die onlangse hittegolf en droë winde. Verskeie gemeenskappe sou reuseverliese gely het as dit nie vir die vinnige optrede van AfriForum se buurtwaglede, ander organisasies en boere was nie.

Die buurtwaglede het op kort kennisgewing met bakkiesakkies en ander brandbestrydingstoerusting gereageer en gehelp om brande in die volgende areas te blus: Alkmaar, Cairn, Brondal, die Witrivier Rugbyklub en in die omgewing van Chimp Eden.

Daar is ook gehelp waar ’n lapa en ’n stoor gebrand het. Verder is daar ook gehelp om vure te blus wat grondverskuiwingsmasjiene laat brand het.

AfriForum spreek sy waardering uit teenoor LEFPA, Lowveld Fire Response, sook die talle boere en gemeenskapsledewat bygedra het – of dit nou met fisiese brandbestryding, die aanry van brandstof, water of ander noodsaaklike benodigdhede was. Hierdie samewerking beklemtoon die krag van gemeenskappe wat hande vat en self verantwoordelikheid neem waar die risiko’s groot is.

“Ons is trots op die wyse waarop ons buurtwagte saam met die breër gemeenskap opgetree het. Hierdie gebeure wys weereens dat ons nie kan staatmaak op die owerhede om ons te beskerm teen brande nie, maar dat ons deur gemeenskapsamewerking baie kan vermag,” sê Theo Bezuidenhout, voorsitter van AfriForum se Witrivier-tak.

AfriForum se Nelspruit- en Witrivier-takke doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak, aangesien die sukses van hierdie inisiatiewe afhang van mense wat hul tyd en toerusting aanbied om ander te help.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid