|

Boland-buurtwagte wys hul slag tydens landswye massapatrollie

AfriForum se Boland-buurtwagte in die Overstrand, Helderbergkom, Strand, Stellenbosch, Paarl en Worcester het op 20 en 21 Junie aan dié organisasie se landswye massapatrollie deelgeneem. Hierdie grootskaalse patrollie het ten doel gehad om misdaad te bekamp, gemeenskapsveiligheid te versterk, en samewerking tussen burgerlike strukture en wetstoepassers te bevorder.

’n Totaal van 405 patrolleerders het deelgeneem aan hierdie massapatrollie waarvan 246 uit AfriForum-buurtwaglede bestaan het en ’n verdere 159 deelnemers vanuit die SAPD, sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsrolspelers. Daar is ’n totaal van 5 258 km in 230 voertuie afgelê.

Sewe insidente is deur die loop van die massapatrollie aangemeld en suksesvol hanteer – van verdagte voertuie, onwettige padverbruikers tot moontlike oortreders. In al hierdie gevalle is daar professioneel opgetree, in samewerking met die relevante owerhede.

Hierdie syfers beklemtoon die omvang en doeltreffendheid van die patrollie. In verskeie gebiede het patrollies gelei tot die identifisering van verdagte gedrag, proaktiewe optrede en die aanmelding van insidente aan relevante owerhede.

Strand en Helderbergkom het aktief saamgewerk met sekuriteitsmaatskappye en die SAPD, roetes strategies beplan en radiokommunikasie doeltreffend gebruik. In Stellenbosch is nagpatrollies aangevul by  van plaaslike gebiede tussen Stellenbosch en Strand, aangesien sindikate se aktiwiteite onlangs toegeneem het in daardie gebied. Paarl het hul goed geywer binne-dorps waar daar ’n paar onwettige padverbruikers, sonder geldige lisensies, vasgetrek is, asook voetgangers met gevaarlike wapens. Worcester  het op hul beurt gefokus op gebiede met hoë misdaad aktiwiteite.

Die landswye massapatrollie dien as ’n bewys van wat moontlik is wanneer gemeenskappe en strukture saamwerk. AfriForum se Boland-takke sien hierdie sukses as ’n motivering om hul vermoëns en netwerk verder te versterk.

“Ons is vasbeslote om voort te bou op hierdie sukses. Veilige gemeenskappe is nie toevallig nie – dit is die resultaat van volgehoue betrokkenheid,” sê Marique van Dalen, AfriForum se  distrikskoördineerder vir die Boland.

Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum- takke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings