Amerikaner sing in AfriForum Teater om plaasaanvalle te help bekamp
Wat is lekkerder as ’n aand van goeie musiek en saamkuier? ’n Aand van goeie musiek en saamkuier vir ’n goeie doel. Dit gaan beslis die geval wees wanneer die Amerikaanse countrysanger Dean Chancy op 15 November in die AfriForum Teater musiek gaan maak om fondse in te samel om plaasaanvalle te help bekamp. Die fondse wat ingesamel word sal onder meer aangewend word om plaaslike veiligheidstrukture te versterk en traumaberading aan slagoffers te bied.
Chancy is reeds ’n bekende onder baie Afrikaners met sy liedjies wat veral die lot van boere en ander mense wat op plase woon mooi vasvang. Dit was juis toe hy gesien het hoe politieke leiers in Suid-Afrika die “Kill the Boer”-dreunsang sing, dat hy besluit het om liedjies oor boere te begin skryf. Sy eerste album is getiteld “It Ain’t Easy to Kill a Boer” waarvan die eerste drie snitte aan sy vriende in Suid-Afrika opgedra is.
Nog een van Chancy se albums “Black Monday” het vyf snitte waar hy oor die uitdagings in Suid-Afrika sing. Sy jongste album “He’s a Boer” het ’n ligter aanslag met lekker luisterliedjies en ballades. Hy het oor die jare al honderde liedjies geskryf.
Chancy is as 17-jarige weermag toe, maar sy groot liefde was altyd musiek met sangers insluitend Don Williams en Johnny Cash wat onder sy gunstelinge tel. Chancy het ook al die voorreg gehad om in Houston en Nashville musiek op te neem.
Oor sy liedjies sê hy “Alhoewel ek die ritmes en lirieke van my liedjies uitdink is die stories wat ek vertel en baie van die idees van my liedjies te danke aan my vriende in Suid-Afrika.”

Chancy het twee kinders en sy gesin speel ’n sleutelrol in sy lewe. Sy Boston-terriër is ook ’n deel van sy gesin. Hy bedryf ’n klein onderneming, maak leerprodukte en ry graag op sy Harley Davidson.
“Ons sien uit om Dean Chancy by die AfriForum Teater te verwelkom! As jy hou van egte countrymusiek en graag ’n verskil wil maak in plaaslike veiligheid, moenie hierdie konsert misloop nie, dit beloof om jou hartsnare te roer,” sê Salet Smith, teaterbestuurder by die AfriForum Teater.
Die vertoning op 15 November begin om 19:00 en is oop vir alle ouderdomme. Kaartjies is reeds te koop teen R200 elk. Besoek www.afriforumteater.co.za om kaartjies vir hierdie vertoning of enige van die ander wat binnekort op die planke by die AfriForum Teater is te bekom.



