Belastingverhogings onaanvaarbaar, sê AfriForum

Dit is verregaande dat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, belastingbetalers se hulpkrete ignoreer en voortgegaan het om ’n swaar belastinglas op te lê. Só reageer AfriForum in die lig van Godongwana se 2025-begrotingsrede wat vanmiddag gelewer is.

Klankgreep: Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder oor finansies

AfriForum hou vol dat die weiering om besnoeiings aan staatsbesteding in te stel, ondanks die grootskaalse teenkanting teen die verhoging van belasting op toegevoegde waarde (BTW), nou ernstige druk op alle burgers van die land gaan plaas. Godongwana het vandag ’n 0,5-persentasiepuntverhoging in die BTW vir 2025/2026 sowel as ’n bykomende 0,5-persentasiepuntverhoging vir 2026/2027 aangekondig. Daarbenewens is die kerwe en terugbetalings op persoonlike inkomstebelasting sowel as belastingkrediete op mediese fondse, vir die tweede agtereenvolgende jaar, nie ooreenkomstig inflasie aangepas nie. Beide dié stappe druis in teen die oproepe van AfriForum en verskeie kenners.

AfriForum doen daarom ’n beroep op opposisiepartye en burgerlike groepe om elke moontlike wettige stap te doen om die aangekondigde belastingverhogings teen te staan.

Die minister het tydens die begrotingsrede aangevoer dat ’n verhoging in die BTW die “doeltreffendste manier” is om verdere besnoeiings te verhoed en die regering steeds in staat te stel om maatskaplike toelaes uit te betaal. Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder oor finansies, is dit ’n wanvoorstelling van die minister om aan te voer dat ’n verhoging in die BTW die enigste uitweg was. “Verskeie werkbare alternatiewe is uit verskeie oorde voorgestel, maar dit is op grond van die ANC se eie beleidsoorwegings geïgnoreer,” verduidelik Boshoff.

Voorstelle wat vir die besnoeiing van uitgawes gemaak is, sluit onder meer in: die verkleining van die kabinet en staatsdepartemente; salarisbesnoeiings en besnoeiing van hooggeplaaste staatsamptenare se voordele; die afskaffing van regeringsadvertensieveldtogte; die besnoeiing van reis- en spysenieringsuitgawes; en die privatisering van staatsbeheerde ondernemings.

Boshoff waarsku dat hierdie belastingverhogings gaan lei tot verhoogde vlakke van belastingontduiking en -vermyding. Voorts sal die emigrasie van talle gekwalifiseerde individue en entrepreneurs, te midde van bestaande hoë werkloosheidvlakke, na verwagting hierop volg.

“Belastingsvlakke word verhoog, terwyl die gemiddelde staatsamptenaar steeds R14 400 per maand méér as die nasionale gemiddelde salaris verdien. Dit word hoofsaaklik aangedryf deur ministers en ander senior staatsamptenare se lywige salaristjeks,” voeg Boshoff by. “Hieruit is dit duidelik dat daar geen ernstige poging aangewend is om alternatiewe oplossings te vind nie.”

AfriForum doen ’n beroep op individue en gemeenskappe om by die organisasie betrokke te raak en te help bou aan staatsbestande oplossings vir dienslewering, veiligheid en openbare infrastruktuur.

Soortgelyke plasings