Bela-riglyne is ʼn taktiese deurbraak
Siviwe Gwarube, die minister van Basiese Onderwys, het riglyne vir die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) gepubliseer. Volgens AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) is hierdie riglyne ’n taktiese deurbraak vir skole.
Hoewel dit nie die wet self regstel nie, bied dit ten minste ’n mate van basiese beskerming.
Volgens die riglyne mag skole wat genoegsame aansoeke van ouers ontvang het, nie instruksies ontvang om hul taalbeleid te verander nie.
“Hierdie bepaling is vir ons ’n taktiese deurbraak,” sê die instellings. “Dit was ’n spesifieke inset van AfriForum, Solidariteit en die SOS. Afrikaanse skole is reeds in meeste gevalle oorvol en het nou ten minste ’n vorm van basiese beskerming.”
Benewens dié kernbepaling, bevat die riglyne ook ander maatreëls wat beskerming bied:
- Die konsultasieproses word duideliker uiteengesit.
- Daar moet gekyk word na die skool se bestaande taalbeleid.
- Die behoeftes van die groter onderwysdistrik, sowel as die onmiddellike omgewing en voedingsgebied, moet oorweeg word.
- Die reg op moedertaalonderwys moet in ag geneem word.
Daar moet bepaal word of ander skole aandag kan gee aan die taalbehoeftes van die omgewing en distrik.
- Daar moet vasgestel word of die noodsaaklike hulpbronne wat benodig word om ’n taalbeleid te verander, beskikbaar is.
“Dit is nie naastenby perfek nie, maar dit help baie,” sê die organisasies.
Hoewel riglyne minder gewig dra as regulasies, norme en standaarde, bied dit tog riglyne vir rasionaliteit. Dit beteken dat as iemand dit nié toepas nie, daar sterker grondslag vir ’n regsaksie is.
Die instellings glo dat hierdie riglyne ook ’n basis sal vorm vir die ontwikkeling van toekomstige regulasies, norme en standaarde.
Die ontwikkeling van norme en standaarde is die volgende stap in die proses. Die drie instellings verwag dat hierdie riglyne daarin vervat sal wees en dat die konsep binne twee maande vir openbare kommentaar gepubliseer sal word.
“Al is dié riglyne ’n taktiese deurbraak, is die Bela-stryd nog lank nie verby nie.”
Laastens waarsku die instellings dat hulle nie sal huiwer om amptenare hof toe te neem indien hulle die riglyne sou oortree nie.
Die Solidariteit Beweging sal eersdaags meer inligting en ’n praktykgids bekend maak.
Die riglyne is hier beskikbaar: https://www.education.gov.za/Resources/Policies.aspx.