Bebloed en mishandel ná “gedokterde” drankie – Verkragtingsaak maande later geopen ná privaatvervolgingseenheid ingryp
Dit is weereens bewys dat die regering se beloftes om geslagsgebaseerde geweld die hoof te bied slegs lippediens is. Dit ná die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) drie maande lank gesloer het om ’n verkragtingsaak oop te maak vir ’n vrou wat bebloed en vol kneusplekke in die hospitaal wakker geword het. Die laaste ding wat sy kon onthou was dat iemand vir haar ’n glas wyn gegee het om te drink. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nou die enkelma wat glo dat sy bedwelm en verkrag is, en wie se saak gewoon as ’n navraag hanteer is deur die gespesialiseerde eenheid vir ondersoeke na seksuele geweld.
Ten spyte daarvan dat hierdie geval reeds in April vanjaar aangemeld is, het die SAPD steeds nie verklarings van die slagoffer of moontlike getuies geneem nie. Die strafregtelike saak is eers op 22 Julie 2025 gebring ná die privaatvervolgingseenheid die vorige dag die kwessie eskaleer het na die provinsiale hoof van die SAPD se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings aangesien dié eenheid se bevelvoerder by die Moot SAPD versuim het om te reageer op versoeke om die dossier te registreer en te ondersoek.
In sy skrywe aan die provinsiale hoof van die SAPD se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, dat dit blyk of die SAPD nie oor die nodige vaardighede of wilskrag beskik om die saak te ondersoek nie. Veral ná hulle ingelig is dat die slagoffer nie kan onthou wat gebeur het toe sy in die hospitaal wakker geword het vol kneusplekke en bebloede klere nie. Volgens Nel blyk dit dat die spesiale ondersoekers gedurende ’n tyd waar die samelewing hul vertroue in die SAPD verloor het, onbewus is van die feit dat dit gevestigde reg is dat ’n klaer nie kan instem tot seksuele dade wanneer sy dronk of onder die invloed van sekere middels is nie.
Hoewel die SAPD versuim het om ’n verklaring van die slagoffer te neem, het sy aan die privaatvervolgingseenheid vertel dat haar buurman en sy verloofde haar op die aand van 20 April 2025 na hulle woonstel genooi het vir ’n drankie. Sy het voorgeneem om slegs een glas wyn te drink, maar die man het later vir haar nog ’n glas wyn aangebied. “Ek het op ’n stadium iets verskriklik bitter in my mond geproe. Ek kan steeds die smaak onthou, maar ek het geen idee wat ek geëet of geproe het nie. Ek het ’n paar slukkies van die wyn gevat en van daar af is alles weg. Ek kan niks onthou nie. Ek het in die Tshwane Distrikshospitaal wakker geword,” sê sy.
Toe haar naasbestaandes haar nie die oggend van 21 April 2025 in die hande kon kry nie het hulle haar woonstel binnegegaan. Daar het hulle bloedspatsels op die vloer en mure gekry en sy was nêrens te vind nie. Haar buurman se kamerjas was op haar slaapkamervloer en haar klere is later by sy woonstel gekry. Die saak is later daardie aand by die SAPD aangemeld ná die slagoffer na ’n privaathospitaal is om ondersoek te word en monsters te laat kry om te bepaal of sy verkrag is.
Die dokters het die inisiatief geneem om die saak by die SAPD aan te meld, maar het nie hulle bevindinge met die slagoffer gedeel nie. Volgens die slagoffer se pa het die speurder, wat aangestel is om die ondersoek te doen, ’n afwysende opmerking gemaak oor sy dogter wat nie kan onthou wat die vorige aand gebeur het nie.
President Cyril Ramaphosa het ook gedurende sy begrotingstoespraak op 16 Julie vanjaar weer, soos hy baie keer doen, gesê dat geslagsgebaseerde geweld met erns hanteer word en dat dit ’n pandemie is wat die mans van die nasie beskaam. Volgens Ramaphosa is daar reeds vordering in die hantering van gevalle van geslagsgebaseerde geweld, soos om die historiese agterstand met DNS-toetse in te haal, skuldigbevindings te verhoog en slagoffers se ervaring by polisiestasies te verbeter. Hy meen egter dat die grootste uitdaging steeds is om hierdie voorvalle in die eerste plek te verhoed.
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat Ramaphosa se stellings net opnuut wys hoe uit voeling die regering is met die realiteit van wat vroue elke dag by polisiestasies en in die howe ervaar. “Wat president Cyril Ramaphosa die parlement vertel oor die stryd teen geslagsgebaseerde geweld is betekenisloos as selfs die polisiebeamptes wat die verantwoordelikheid opgelê is om seksuele geweld te ondersoek, hierdie klaers met minagting en ongeloof hanteer.”
“’n Vrou het na iemand se huis gegaan waar sy alkohol gedrink het. Die volgende ding wat sy onthou is dat sy vol bloed, snye, krapmerke en kneusplekke in ’n hospitaal wakker geword het met tekens dat sy moontlik verkrag is. Die voorval is dieselfde dag nog by die polisie aangemeld, maar dit neem hulle drie maande om die dossier te registreer, en ook eers nadat die privaatvervolgingseenheid ingryp en die saak na die provinsiale vlak eskaleer. Dit is onaanvaarbaar dat ’n speurder wat seksuele oortredings met toewyding en professionaliteit ondersoek sou toelaat dat hierdie gebeur. Ons word gelaat met die betreurenswaardige gevolgtrekking dat die beweerde kenners óf die vaardighede skort wat nodig is om hierdie misdade te ondersoek óf dat hulle heeltemal apaties is teenoor die lot van verkragtingslagoffers.”
“Die dossier is binne 24 uur geregistreer ná AfriForum se privaatvervolgingseenheid die saak eskaleer het, maar drie maande se ondersoekgeleenthede is daarmee heen. In ons skrywe het ons verskeie ooglopende getuieverklarings en ander bewyse identifiseer wat steeds versamel moet word. Hoewel ons hierdie verwikkeling verwelkom, hoop ons dat dit ook ’n einde sal bring aan die polisie se minagtende behandeling van slagoffers van verkragting,” sê Bateman.
In Suid-Afrikaanse wetgewing word toestemming uitgesluit wanneer ’n persoon nie die vermoë het om te verstaan wat die aard van die seksuele daad is nie, insluitend gevalle waar die klaer bewusteloos is of onder die invloed van medisyne, dwelms, alkohol of ander middels is wat hulle bewussyn aantas en hulle nie die vermoë het om oordeelkundig op te tree nie.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid glo dat die wetstoepassers aangedui het dat hulle nie hierdie definisie verstaan nie, wat daartoe lei dat talle slagoffers van verkragting weggewys word deur SAPD-lede omdat hulle nie die seksuele daad kan onthou nie of dat hulle ontmoedig is om sulke gevalle aan te meld as gevolg van die minagting waarmee hulle begroet word wanneer hulle poog om hierdie dade aan te meld. Die privaatvervolgingseenheid moedig slagoffers aan om na vore te tree.

