| |

AfriForum911-reaksie-eenheid help man met ernstige steekwond

Die AfriForum911-reaksie-eenheid het op 11 Maart ’n kardinale rol gespeel om ’n man, wat ’n ernstige steekwond opgedoen het, te help totdat mediese nooddienste by die toneel opgedaag het. Die reaksie-eenheid is na die Pellissier-woonbuurt ontbied nadat inligting ontvang is dat ’n man voor ’n woning inmekaar gesak en vreemde geluide gemaak het.

Met die eenheid se aankoms op die toneel is bevind dat die man, vermoedelik ’n rommelversamelaar, ’n steekwond bo sy sleutelbeen opgedoen het. Hy het reeds baie bloed verloor en was bewusteloos. Noodhulp en noodsaaklike bloedingsbeheer is onmiddellik toegepas, terwyl nooddienste ontbied is.

Gedurende die behandeling het die pasiënt se toestand verder verswak. Verdere mediese ondersteuning is ontbied, terwyl AfriForum se reaksiebeampte aangehou het om die bloeding te beheer en die pasiënt se toestand noukeurig te moniteer.

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Parkweg en ambulansdienste het by die toneel opgedaag. Paramedici het die pasiënt se behandeling oorgeneem waarna hy na die Nasionale Hospitaal geneem is.

Weens die pasiënt se kritieke toestand kon geen inligting op die toneel bekom word oor hoe of wanneer hy die steekwond opgedoen het of oor enige moontlike verdagtes nie.

“Hierdie voorval wys hoe belangrik dit is dat die publiek vinnig reageer en insidente onmiddellik rapporteer. Tyd is van kardinale belang wanneer iemand ernstig beseer is. ’n Vinnige reaksie maak dit moontlik om noodhulp en doeltreffende bloedingsbeheer betyds toe te pas, wat dikwels die verskil tussen lewe en dood kan beteken,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir AfriForum in Bloemfontein.

Groenewald voeg by dat gemeenskapslede ’n belangrike rol speel om hul woonbuurte veiliger te maak: “Ons moedig inwoners aan om by AfriForum se buurtwagstrukture aan te sluit. Deur georganiseerd saam te werk en vinnig op noodroepe te reageer, kan ons misdaad help bekamp en ook in noodsituasies vinniger hulp verleen en lewens red.”

AfriForum bedank alle rolspelers wat saamgewerk het om vinnig op te tree en die pasiënt die beste moontlike kans op oorlewing te gee, insluitend die SAPD, die Vrystaatse mediese nooddienste, Netcare911 en ER24.

Soortgelyke plasings

Veiligheid