Afrikaners en Seleka Barolong gedenk 160 jaar van vriendskap met opknapping van historiese grafte en monument
AfriForum en die Seleka Barolong het vandag die verdrag van alliansie en bondgenootskap herdenk wat presies 160 jaar gelede, op 27 Maart 1865, tussen die toenmalige kgosi van die Seleka Barolong, kgosi Moroka II, en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) onderteken is. Dié historiese gebeurtenis word geag as die aanvang van formele samewerking en wedersydse erkenning tussen Afrikaners en die Seleka Barolong. Tydens vandag se gedenkgeleentheid is die pas gerestoureerde grafte van die koninklike familie van die Seleka Barolong en die monument wat die verkiesing van die eerste Voortrekkerregering in 1836 in Thaba Nchu herdenk, onthul.
Die verhaal van die Afrikaners en die Seleka Barolong bevat talle voorbeelde van goeie verhoudinge en samewerking. Die Voortrekkers het Thaba Nchu, die koninkryk van die Seleka Barolong, in 1836 bereik en is hier vriendelik deur kgosi Moroka II ontvang. Hy het onder meer osse na A.H. Potgieter se trekgeselskap gestuur sodat hulle na die veiligheid van Thaba Nchu kon terugtrek nadat hulle in Oktober 1836 – na afloop van die aanval op die Voortrekkerlaer by Vegkop, naby die hedendaagse Heilbron – gestrand gelaat is. Die Uys-trek het ook hier in 1837 ’n eerste rietdakkerkie gebou en vir die eerste keer nagmaal buite die destydse Kaapkolonie gehou.
Die Seleka Barolong was, onder leiding van kgosi Moroka II en sy opvolger kgosi Tshipinare, ’n baie belangrike bondgenoot van die OVS en die onderlinge samewerking het die voortbestaan van beide kultuurgemeenskappe verseker. Nadat kgosi Tshipinare in 1884 deur sy halfbroer vermoor is, het die OVS Thaba Nchu geannekseer uit vrees vir moontlike misbruik van die leierskapvakuum deur die koninkryk van Lesotho, die destydse groot opponent van die Seleka Barolong en die OVS.
As teken van dankbaarheid vir dit wat die Seleka Barolong vir die Afrikaners gedoen het, is bouwerk aan die Ereskuldkerk in 1928 begin. Dié unieke kerk op Thaba Nchu is in 1932 ingewy.
Die goeie verhoudinge en samewerking tussen die Seleka Barolong en Afrikaners is in 2020 hernu, en in die lig daarvan het AfriForum sy steun aan die koninklike familie toegesê in ’n hofstryd om erkenning teen die destydse provinsiale regering van Ace Magashule. Sedertdien het AfriForum en die Seleka Barolong ook verskeie gesamentlike landbouontwikkelingsprojekte (in samewerking met die familieboernetwerk Saai) en erfenisprojekte aangepak.
Volgens kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Seleka Barolong-kultuurgemeenskap, is dit belangrik om die goeie én die slegte van die verlede te onthou. “Dit is baie belangrik dat ons erkenning gee aan ons voorouers wat soveel opgeoffer het om vir ons ’n toekoms te verseker. Ons wil graag die kosbare erfenis en nalatenskap wat ons van hulle ontvang het, in ’n beter toestand aan die volgende geslag oorhandig. Om in die verlede vas te val, gaan nie die groot uitdagings van armoede, gebrekkige voedselsekerheid, werkloosheid en misdaad wat ons in die gesig staar, oplos nie. Daarom haal ons die goeie uit die verlede en benut al die innoverings en vennootskappe wat vandag tot ons beskikking is en fokus ons energie om ’n mooi toekoms vir ons kinders te verseker.”
Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, hou vol dat samewerking tussen kultuurgemeenskappe uiters belangrik is. “Ons voorouers was wys en het verstaan dat samewerking met ander kultuurgemeenskappe noodsaaklik is vir die voorspoedige voortbestaan van Afrikaners hier aan die suidpunt van Afrika. Ons word opnuut geïnspireer deur die goeie wat in die verlede ontdek kan word, en werk met nederige toewyding om, in N.P. van Wyk Louw se woorde, in geregtigheid hier voort te bestaan. Die netwerk van kultuurgemeenskappe, gebou op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, wat tans op voetsoolvlak gestalte kry, vul ons met hoop vir die toekoms,” verduidelik hy.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ook die gedenkgeleentheid bygewoon. Volgens hom bevestig geleenthede soos dié dat daar goeie verhoudinge tussen verskillende kultuurgemeenskappe op voetsoolvlak bestaan. “Dit is slegs die elite en politieke leiers wat probeer voordeel trek uit polariserende optrede en uitsprake. Ons kinders is vir ons belangrik en daarom sal ons onbeskaamd aanhou werk om vir hulle ’n toekoms, in vreedsame en voorspoedige naasbestaan met alle kultuurgemeenskappe, in die land te verseker,” sluit hy af.
Dekfoto: Kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Seleka Barolong-kultuurgemeenskap, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die onthulling van die gerestoureerde monument by die Morokashoek Voortrekkerterrein.



