| |

Afrikaans 100 – AfriForum stel nuwe projek bekend om moedertaalonderrig te bevorder

Klankgreep: Alana Bailey

As deel van die viering van Afrikaans se honderd jaar as amptelike taal, neem AfriForum môre (Saterdag 24 Mei 2025) deel aan die Afrikaans 100 Makietie wat vanaf 10:00 by die Nasionale Botaniese Tuin in Pretoria sal plaasvind. By dié geleentheid sal AfriForum ’n nuwe inisiatief bekendstel om ouers en kinders oor die waarde van Afrikaanse moedertaalonderrig bewus te maak.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is moedertaalonderrig by verre die beste akademiese, ekonomiese, maatskaplike en emosionele keuse vir enige mens. Afrikaanssprekendes het die voordeel dat dit steeds moontlik is om in Afrikaans skool te gaan en ook by instellings soos Akademia en Sol-Tech ná matriek verder te studeer.

“Ongelukkig veroorsaak die druk van Engels as sterk internasionale taal en politieke verdagmakery dat sommige Afrikaanse ouers verkies om hulle kinders in Engelse skole te plaas. Dit het verskeie kort- en langtermyngevolge waarvan die ouers nie noodwendig bewus is nie, byvoorbeeld dat dit kinders se algemene taalvaardigheid knou, mettertyd probleme met vakke soos wiskunde veroorsaak, dat leerders minder geneig is om hulle studies ná skool voort te sit, asook selfs dat hulle ’n swak selfbeeld en gebrekkige redenasievermoë mag ontwikkel,” sê sy.

Om ouers al so vroeg as moontlik op die voordele van Afrikaanse moedertaalonderrig te wys, het AfriForum nou ’n inkleurboekie geskep waardeur kleuters én hul ouers op prettige wyse meer hieroor kan uitvind.

Tydens die Afrikaans 100 Makietie kan die eerste duisend kinders wat AfriForum se stalletjie besoek, elk ’n gratis inkleurboekie kry. ’n Inkleurkompetisie word ook vir die jongspan tot en met Graad 3 aangebied om die bekendstelling daarvan te vier.

Kleuter- en laerskole wat ook in die boekies belangstel, is welkom om AfriForum by onderwys@afriforum.co.za te kontak.

Soortgelyke plasings