|

AfriForum wil natuur vir nageslagte bewaar

AfriForum het ’n aanlyn petisie van stapel gestuur om inligting te bekom oor waar daar natuurreservate in staatsbesit is en in watter toestand hierdie reservate is.

Die Molopo-natuurreservaat in Noordwes het in November 2023 groot opslae gemaak weens die staat se uiterse swak bestuur van die reservaat. Infrastruktuur word nie opgegradeer of onderhou nie en geen poging word aangewend om alternatiewe oplossings vir die probleme te vind nie. Dit het tot gevolg gehad dat talle diere gevrek het as gevolg van hierdie swak bestuur. Water in die reservaat het opgedroog en diere is aan hul eie genade oorgelaat. Van die diere het langs die waterkrippe en gronddamme, waar daar eens water was, gevrek.

AfriForum het in 2024 verskeie skrywes aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die toestand van die Henk Joubert-natuurreservaat tussen Delareyville en Ottosdal. Hierdie reservaat is nie omhein nie wat daartoe gelei het dat talle diere jaarliks deur motoriste doodgery word. Dit maak die pad vir motoriste ook uiters gevaarlik veral gedurende die aand. Hierdie reservaat word ook nie onderhou nie, boonop is daar geen aandag aan AfriForum se klagtes of versoeke gegee nie.

“Hierdie tragedies is alles as gevolg van die staat se onvermoë om na die reservate onder hul bestuur om te sien. Dit is skokkend dat daar so min omgegee word vir hierdie diere en indien dit so voortgaan, sal daar al hoe minder diere oor wees vir die nageslag. Sal ons oor 20 jaar steeds gemsbokke en koedoes in reservate kan sien? Of word hierdie verantwoordelikheid op die skouers van die landbousektor geplaas om hand in eie sak te steek en die staat, wat befonds word vir die bestuur van hierdie reservate, se werk namens hulle te doen,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

“Natuurreservate was eens ’n ideale ontspanningsplek vir mense wat bietjie uit die dorp wou wegbreek. Vandag is dit ’n stryd om oorlewing vir die diere wat in hierdie reservate voorkom,” sluit Nel af.

AfriForum wil graag ’n dringende beroep op gemeenskappe doen om die petisie te voltooi en AfriForum se webtuiste dop te hou vir verdere inligting oor hierdie veldtog. Saam kan ons ‘n verskil maak en die natuur vir die nageslag bewaar.

Sluit vandag by AfriForum aan en word deel van die oplossing: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings