|

AfriForum wil infrastruktuur beveilig, maar Tshwane-metro wys weer dié hand weg

AfriForum het herhaaldelik oor die afgelope paar maande vergaderings met die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gehad oor die burgerregteorganisasie se bereidwilligheid om noodsaaklike infrastruktuur teen vandale te beskerm. Dit blyk egter asof die metro eerder nóg geld sal opdis aan wagsekuriteitsdienste as om formeel hande te vat met ’n burgerlike organisasie wat bereid en in staat is om broodnodige veiligheidsopgraderings by noodsaaklike infrastruktuur aan te bring.

Die metro het onlangs nóg R315 miljoen in sy aangepaste begroting opsygesit sodat sekuriteit – in die vorm van veiligheidswagte – by noodsaaklike infrastruktuur opgeskerp kan word. AfriForum voer egter aan dat dit verkwistende besteding van belastingbetalers se geld is, aangesien AfriForum reeds voorgestel het om infrastruktuur in samewerking met die Tshwane-metro en sy bestaande magte te beveilig.

“Die miljoene rand wat ekstra bekom moet word, sal net nóg druk op belastingbetalers plaas. Dit terwyl daar ten duurste betaal word vir wagte wat steeds nie in staat gaan wees om die metro se infrastruktuur doeltreffend teen diefstal en vandalisme te beskerm nie,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid in die Noordstreek.

AfriForum het daarop gewys dat brandpunte waar kabeldiefstal, die sabotering van substasies en waterverliese algemeen voorkom, eerder met veiligheidskameras en sensors toegerus kan word om beter beskerming te bied. Hierdie stelsels kan direk aan beheerkamers gekoppel word, waarna gewapende reaksiespanne vinnige ontbied kan word. AfriForum het selfs aan die metro benadruk dat die burgerregteorganisasie bereid is om hierdie inisiatiewe sover moontlik self te befonds.

“Dit blyk egter nou asof dié aanbod om hulp deur die metro weggewys word, aangesien AfriForum steeds geen formele terugvoer hieroor ontvang het nie. Die burgerregteorganisasie het in ieder geval reeds die werk gedoen om te verseker dat hierdie stelsels geïnstalleer kan word. AfriForum beplan om in April vanjaar die eerste infrastruktuurbeveiligingstelsel te installeer,” voeg Ungerer by.

AfriForum glo dat die enigste volhoubare manier om die metro se infrastruktuur-uitdagings die hoof te bied, deur samewerking tussen burgerlike organisasies, sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit bewerkstellig kan word. AfriForum bly daartoe verbind om praktiese en doeltreffende oplossings te bied ter bevordering van ’n voorspoedige omgewing vir al die metro se inwoners.

Soortgelyke plasings