AfriForum waarsku: Witskrif-hersiening van nul en gener waarde as korrupsie bly seëvier nie
Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) moet eers korrupsie in munisipaliteite die hoof bied voordat hy hervorming najaag. Dít is die kern van AfriForum se kommentaar op COGTA se besprekingsdokument wat vroeër vanjaar bekendgestel is en as die eerste stap dien om die Witskrif oor Plaaslike Regering van 1998 te hersien.
Dié besprekingsdokument lig talle uitdagings uit waarmee plaaslike regerings te kampe het, waar onder finansiële onstabiliteit, mislukkings ten opsigte van dienslewering, ’n tekort aan geskoolde personeel, wanpraktyke en ’n passiewe burgery.
AfriForum meen daar kan geen betekenisvolle verandering teweeg gebring word as daar nie indringend gekyk word na oplossings vir korrupsie nie. Munisipaliteite moet eers deursigtige tenderprosesse in plek sit; personeel op grond van meriete en nie politieke konneksies aanstel; bevoegde, wettige kontrakteurs kies en begrotings met integriteit bestuur en bestee, dán eers sal die toestand van munisipaliteite verbeter.
Volgens Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake, is dit duidelik dat COGTA nie korrupsie as belangrik genoeg ag nie aangesien die besprekingsdokument 47 keer in die dokument na hervorming verwys en slegs agt keer terloops na korrupsie.
“Munisipaliteite oor die land heen is nie weens ’n gebrek aan wetgewing in ’n haglike toestand nie, maar eerder die nie-nakoming van wetgewing wat reeds in plek is. Amptenare is nie gepla oor die nakoming van wette nie, want hulle weet dat daar geen gevolge is vir die oortreding daarvan nie,” sê Steffens.
AfriForum vra in hul kommentaar vir konkrete, afdwingbare planne om korrupte amptenare aan die pen te laat ry en hulle permanent uit hul amp te verwyder.
“Ons sien te veel gevalle waar ’n amptenaar ’n munisipaliteit leegbloei, nie aanspreeklik gehou word daarvoor nie en as sogenaamde straf net na ’n ander munisipaliteit oorgeplaas word om sy misdrywe daar voort te sit,” voeg Steffens by.
Ten einde ’n geloofwaardige hersiene Witskrif aan te bied behoort COGTA ook aandag aan die volgende te gee:
- Die politisering van munisipaliteite moet uitgeskakel word aangesien dit ’n negatiewe impak op dienslewering het. Hoewel die besprekingsdokument verwys na die oorpolitisering van munisipaliteite faal dit daarin om daadwerklike regulatoriese optrede in werking te stel om die probleem op te los.
- Openbare deelname-prosesse moet meer wees as net ’n administratiewe aktiwiteit. Die eerste stap om landsburgers se vertroue te bou is om werklik na hulle insette tydens openbare deelname-prosesse te luister en dit ter harte te neem in die implementering van munisipale stelsels. Die skuld vir passiewe burgerlike deelname kan nie voor die deur van gemeenskapslede geplaas word nie.
- Werklike gevolgebestuur moet ingestel word soos verpligte leefstyloudits, openbare registers van wangedrag en outomatiese skorsings vir amptenare wat by korrupsie betrokke is.
- Proaktiewe, risikogebaseerde rampbestuurbeplanning moet geprioritiseer word om gemeenskappe en belangrike infrastruktuur te beskerm.
Volgens Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, kan die land nie bekostig om nóg ’n Witskrif te hê wat ernstige probleme slegs in vae terme beskryf sonder om praktiese, afdwingbare oplossings te bied nie.
“Ons kort nie net nog ’n siklus van beleidshervorming wat nie werklike antwoorde op die oorsake van plaaslike regering se ineenstorting bied nie. Nuwe raamwerke, riglyne en prosesse het hul plek, maar dit sal niks bereik as die regering nie die bul by die horings pak en kwessies soos die politisering van munisipaliteite, korrupsie en ’n growwe gebrek aan verantwoordbaarheid oplos nie,” sluit Mostert af.