AfriForum waarsku teen verval in Klerksdorp: Munisipaliteit moet dringend optree en reg begroot
AfriForum het amptelik kommentaar ingedien op die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2025/2026. Die organisasie dring aan op dringende ingryping om die verval van basiese infrastruktuur in Klerksdorp te stuit.
Volgens AfriForum verkeer die Matlosana munisipale gebied – wat Klerksdorp insluit – in ’n toestand van ernstige agteruitgang. Dienslewering is gebrekkig en lei tot verwaarloosde paaie, aanhoudende waterlekkasies en ’n rioolaanleg wat nie meer funksioneer nie. Hierdie probleme bedreig nie net die omgewing en openbare gesondheid nie, maar verlam ook die plaaslike ekonomie.
“Die inwoners van Klerksdorp word daagliks aan haglike omstandighede blootgestel, terwyl die munisipaliteit se politieke en administratiewe leierskap faal om verantwoordelikheid te neem. Ons sal nie toekyk hoe hierdie eens florerende stad in totale verval stort nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
AfriForum vra onder meer dat die Matlosana-munisipaliteit veral moet fokus en begroot vir die volgende:
- Konstante waterlekkasies: Verouderde pyplyne en die swak instandhouding daarvan lei tot ernstige watervermorsing en gesondheidsrisiko’s.
- Swak toestand van paaie: Die meeste paaie is onbegaanbaar weens slaggate en gebrekkige instandhouding, wat vervoer-, veiligheid- en logistieke uitdagings meebring.
- Rioolaanleg in puin: Die Klerksdorp-rioolaanleg funksioneer nie en veroorsaak dat rou riool in strate en riviere uitvloei.
- Omgewingskade: Die besoedeling van grond en waterbronne het reeds ’n skadelike impak op biodiversiteit en landbou.
- Ekonomiese implikasies: Ondernemings sukkel om te oorleef in die afwesigheid van betroubare basiese dienste.
AfriForum benadruk die wesenlike rol van die departement van Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling in die herlewing van die Matlosana-munisipaliteit en stel konkrete oplossings voor, waaronder die volgende:
- ’n Omvattende plan vir die herstel van infrastruktuur in samewerking met ondernemings en grondeienaars.
- Begrotingstoewysings vir die herstel van paaie, die instandhouding van die waternetwerk en die rehabilitasie van die rioolaanleg.
- Doeltreffende openbare deelname – soos deur wetgewing vereis – met inklusiewe forums en konsultasies.
- Die ontwikkeling van strategiese openbare-private vennootskappe.
- Verantwoordelike besteding van inkomste uit belasting en tariewe, in lyn met die Nasionale Tesourie se voorskrifte.
“Ons plaaslike tak is bereid om as vennoot op te tree en gesprekke met die raad, munisipaliteit en sakelui te fasiliteer. Ons doel is om praktiese oplossings te bevorder en volhoubare ontwikkeling aan te moedig,” sê Pretorius.
AfriForum doen ’n beroep op die Matlosana-munisipaliteit om dringend aandag aan hierdie aangeleenthede te gee, reg te begroot en die nodige aksie te neem om Klerksdorp van verval na herstel te lei.
Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Henda Jordaan by 082 783 5272.