AfriForum waarsku teen hoë brandgevaar die naweek in noorde van land

Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans)

AfriForum waarsku gemeenskappe in die noorde van die land om uiterste waaksaamheid aan die dag te lê weens die hoë temperature wat die naweek verwag word. Die brandgevaar-indeks vir die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Noord-Kaap, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes is tans rooi, wat beteken dat toestande besonder gunstig is vir die ontstaan en vinnige verspreiding van veldbrande. Warm, droë en winderige toestande kan maklik lei tot wegholbrande wat nie net groot skade aanrig nie, maar ook lewens in gevaar kan stel.

“AfriForum versoek almal om verantwoordelik en paraat te wees en veldbrande by hul naaste brandbeskermingsvereniging en brandweerdiens aan te meld. Veldbrande kan binne minute lewensgevaarlik raak en die skade is dikwels onherstelbaar. Samewerking van gemeenskappe is noodsaaklik om die gevaar te beperk,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe en grondeienaars om verantwoordelik op te tree en gee die volgende riglyne:

  • Moenie oop vure aansteek nie: Slegs in aangewese areas soos braaiplekke mag vure gemaak word.
  • Beperk sweis- en slypwerk in oop velde: Waar dit onontbeerlik is, moet voldoende brandblustoerusting op die terrein beskikbaar wees. Vonkies van die masjinerie kan tot veldbrande lei.
  • Wees brandgereed: Grondeienaars moet seker maak hul personeel en brandbestrydingstoerusting is gereed om vinnig te reageer. ’n Veldbrand wat vroegtydig geblus word, verhoed groot skade. Daar kan bykomende hulpbronne op bystand geplaas word.
  • Watertenks: Maak seker dat watertenks vol gehou word vir water hervulling. Indien ’n  gebied geneig is tot kragonderbrekings moet voorbereidings getref word dat die watertenks vol gehou word.
  • Beskerm huise en strukture: Maak skoon en snoei plantegroei om huise terug,  veral waar daar grasdakke is. Hou ’n waterpyp of spuittoerusting gereed om grasdakke nat te maak indien ’n veldbrand in die omgewing uitbreek.

Vir meer wenke, besoek www.afriforum.co.za/veiligheid/rampbestuur/.

Soortgelyke plasings