Parys_krag
|

AfriForum vra NERSA om Parys se kraglisensie in heroorweging te neem

Die AfriForum-tak in Parys het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit by die Nasionale Enegergiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) verkla, omdat die munisipaliteit nie aan al die lisensievereistes vir kragverspreiding, soos deur NERSA voorgeskryf, voldoen nie. Daar is sekere vereistes wat ’n lisensiehouer moet nakom, wat die Ngwathe-munisipaliteit egter versuim om aan gehoor te gee.

In AfriForum se brief, wat op 12 Maart aan NERSA gestuur is, is daar spesifiek klem gelê op swak instandhouding van die kragnetwerk, die huidige stand van die infrastruktuur, swak reaksietye op klagtes, die munisipaliteit se swak rapporteringsnetwerk, lang ure se kragonderbrekings, die voltlading wat dikwels foutief is en gevolglik inwoners se elektriese toestelle vernietig of beskadig, en onwettige kragverbindings.

AfriForum versoek dus dat NERSA, as reguleerder volgens artikel 18(4) van die Wet op Elektrisiteitsregulering, 4 van 2006, ’n tribunaal tussen NERSA, die Ngwathe-munisipaliteit en die gemeenskap saamstel om hierdie probleme dringend op te los. Die tribunaal sal NERSA die geleentheid gee om voorstelle aan die munisipaliteit te gee om die kragvoorsiening te verbeter. Indien die Ngwathe-munisipaliteit nie die voorstelle nakom nie, moet sy lisensie om elektrisiteit te mag lewer in heroorweging geneem word.

Munisipaliteite se diensleweringsvermoë gaan onrusbarend vinnig agteruit. Dit beklemtoon die belangrikheid van die betrokkenheid van gemeenskappe by munisipaliteite. Munisipaliteite moet ernstig oorweeg om die kraglewering saam met private instansies, wat oor die vermoë beskik, te bestuur. Dit is tyd dat verbruikers waarde vir hulle geld kry.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, kry die inwoners van Parys baie swaar onder die ontsettend baie kragonderbrekings waaronder hulle gebuk gaan. “Ondernemings ly baie skade en moet ten duurste betaal vir alternatiewe kragbronne soos kragopwekkers. Inwoners ly ook skade omdat hulle elektriese toestelle dikwels onherstelbaar beskadig word deur die onstabiele kragnetwerk en die versekering wil nie meer uitbetaal nie,” sê Pretorius.

Intussen wag AfriForum steeds op ’n uitspraak in die hofaansoek wat die organisasie in Desember verlede jaar by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien het, waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en ’n munisipaliteit onder administrasie plaas wanneer die munisipaliteit nie sy pligte nakom nie; in dié geval die Ngwathe-munisipaliteit. AfriForum versoek onder meer oorsig van die waterwerke sodat die bevoegdheid van werkers op die aanleg gemonitor kan word.

Soortgelyke plasings