AfriForum vra landbou-organisasies om hulp met muggieplaag in Noord-Kaap
AfriForum het landbou-organisasies se kundigheid ingeroep om die toename in muggies in die Noord-Kaap, wat die afgelope paar maande drasties vererger het, te help bestuur. Dit volg nadat dié burgerregteorganisasie al talle klagtes van plaaslike gemeenskappe en produsente oor die huidige muggieplaag ontvang het. Gebiede en dorpe langs die Oranjerivier waaronder Upington, Keimoes, Kakamas, Prieska en Groblershoop, word veral deur die muggies geteister. AfriForum glo dit is noodsaaklik dat landbou-organisasies en burgerlike organisasies saamwerk om hierdie uitdaging aan te pak.
Hierdie plaag het nie net ’n negatiewe uitwerking op boerderybedrywighede en veeproduksie nie, maar raak ook die gesondheid en lewensgehalte van inwoners in die betrokke gebiede. Volgens terugvoer uit verskeie dorpe en landbougemeenskappe word vee en wild aanhoudend deur muggies geteister, wat tot stres, swak kondisie en verminderde produktiwiteit lei; ervaar inwoners ’n groot ongemak en in sommige gevalle word bestaande gesondheidsprobleme vererger; en het die plaag ook implikasies vir plaaslike toerisme en algemene gemeenskapswelstand.
Volgens AfriForum is die probleem met muggies reeds by verskeie munisipaliteite en provinsiale strukture aangemeld, maar tot dusver is geen daadwerklike oplossing geïmplementeer om die muggies in bedwang te bring nie. Die organisasie het daarom besluit om Agri Noord-Kaap en AgriSA om hulp te nader. Die probleem is ook onder John Steenhuisen, minister van Landbou, se aandag gebring. Hy is gevra om met AfriForum en dié landbou-organisasies hande te vat om die plaag te bestry.
AfriForum doen ’n beroep op Agri Noord-Kaap en AgriSA om samewerking te versterk deur ’n gesamentlike taakspan te stig wat die muggieplaag kan ondersoek en oplossings kan formuleer; om wetenskaplike en praktiese oplossings te bevorder, insluitend die raadpleging van entomoloë, veeartse en landboukenners; om regeringsdepartemente en plaaslike owerhede by die proses te betrek om hulpbronne te mobiliseer en volhoubare oplossings te implementeer; en om bewusmaking en voorligting aan lede en gemeenskappe te bied oor voorkomende maatreëls en moontlike behandelingsopsies.
“Die muggieplaag raak nie net boere en hul produksie nie, maar ook gewone inwoners se lewensgehalte. Ons glo dat ’n gekoördineerde poging tussen die regering, rolspelers in die landbousektor en gemeenskapsorganisasies dringend nodig is om hierdie probleem die hoof te bied,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord Kaap.
AfriForum beklemtoon dat hy gereed is om met alle betrokkenes saam te werk om praktiese oplossings te vind en die situasie so spoedig moontlik onder beheer te bring.