|

AfriForum vra implementering van hofbevel terwyl burgemeester teepartytjie hou in waterlose Parys

AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe (10 van 2023) gebring waarin dié organisasie vra dat ’n hofbevel teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit intussen geïmplementeer moet word hangende hul appèlaansoek. Dié hofbevel is op 20 Junie vanjaar in die Hooggeregshof in Bloemfontein bekom waar die hof bevind het dat die Ngwathe-munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike, en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie.

Die hof het as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en dat die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die Ngwathe-munisipaliteit moet ingryp. Die Ngwathe-munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl is van die hand gewys en hulle poog nou om dié beslissing in die Hoogste Hof van Appèl te laat omkeer. AfriForum vra dat die hofbevel, hangende die munisipaliteit se appelleringsproses, steeds intussen in sy geheel geïmplementeer word. As alternatief stel die organisasie voor dat die bevel geïmplementeer word sonder die raad se ontbinding.

Intussen hou die burgemeester, Victoria de Beer-Mthombeni, en die vroulike werknemers van die Ngwathe-munisipaliteit teepartytjie in die Mimosa Tuine. Dít terwyl die meeste van Parys se inwoners met min of geen water en sonder krag moet regkom.

Daar is selfs ’n tender uitgestuur vir 1 000 geskenkpakkies vir hierdie geleentheid. Dit is nog nie bekend wat die totale koste vir hierdie geleentheid was nie. Foto’s daarvan is egter op sosiale media geplaas waar gesien kon word hoe die eetgoed, waterbotteltjies en selfs alkoholiese drankies op die tafels staan. Volgens AfriForum kon die geld wat hieraan spandeer is eerder gebruik word om van die munisipaliteit se probleme op te los.

’n Verdere tender is uitgereik vir mikrofone en kameratoerusting wat gewoonlik vir podsendings gebruik word. Hierdie toerusting beloop bykans R20 000. Die Ngwathe-munisipaliteit se planne met hierdie toerusting is nog onbekend.

“Dit is genoeg om enige persoon warm onder die kraag te laat dat daar só met die belastingbetaler se geld omgegaan word. Dít terwyl die einste belastingbetaler sonder water en krag sit met riool wat selfs plek-plek deur die strate vloei,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier. “Dit is duidelik dat dienslewering nie vir hierdie munisipaliteit so belangrik is soos ’n lekker partytjie nie.”

Volgens Schalk Burger, AfriForum se takvoorsitter in Parys, moet die raad en die burgemeester gaan kyk wat die werklike nood in Parys is wat inwoners elke dag moet ervaar. “Ons wat elke dag met hierdie probleme te doen het en op ’n manier oplossings moet kry op ons eie, staan stom. Ons kan nie na die munisipaliteit draai om te vra dat hulle hul werk doen nie want hulle is te besig met ander dinge, intussen verval die dorp.”

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf