|

AfriForum vra duidelikheid by Eskom oor registrasie van sonkrag-installasies

AfriForum het ’n formele skrywe aan Eskom gerig om duidelikheid te vra oor die wetlike en regulatoriese raamwerk wat die verpligte registrasie van kleinskaalse ingeboude kragopwekking (SSEG) wat tot 50 kW opwek, ondersteun. Die burgerregteorganisasie voer aan omdat die meeste SSEG-gebruikers reeds duisende rande aan sonkragstelsels bestee het om wisselvallige krageverskaffing teë te werk, is dit redelik om te aanvaar dat die onlangse aankondiging rakende yslike registrasiefooie en boetes, sonkraggebruikers bekommerd en onseker gelaat het.

“Dit blyk dat Eskom voortgaan om Suid-Afrikaners in ’n toestand van onsekerheid te hou wanneer dit kom by die toekoms van alternatiewe kragopwekking. Die onlangse aankondiging wat vereis dat alle Eskom-kliënte as SSEG’s moet registreer as hulle aan die kragnetwerk gekoppel is en alternatiewe kragbronne gebruik, het baie Suid-Afrikaners met meer vrae as antwoorde gelaat,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

AfriForum het Eskom versoek om sonkraggebruikers se vrese te besweer en spesifieke verwysings oor die bepalings, beleide of regulasies wat Eskom gebruik om die verpligte registrasie van SSEG-stelsels af te dwing, aan die burgerregteorganisasie te verskaf. Daarbenewens soek AfriForum duidelikheid oor die regsgrondslag vir die oplegging van boetes of strawwe aan gebruikers wat nie aan hierdie registrasievereistes voldoen nie.

“Gegewe die toenemende rol wat kleinskaalse kragopwekking in energiesekerheid speel, is dit noodsaaklik dat Eskom duidelike en wetlike regverdigings vir sy toepassingsmaatreëls verskaf,” sê Mostert.

Die voortdurende debat rondom sonkrag en Eskom se finansiële volhoubaarheid beklemtoon boonop die kompleksiteit van Suid-Afrika se kraguitdagings. AfriForum is bekommerd dat ’n onredelike regulatoriese beleid dalk toekomstige sonkraggebruikers kan ontmoedig, wat ’n meer volhoubare energiemodel in Suid-Afrika kan belemmer.

“Terwyl Eskom regulatoriese maatreëls soos die registrasie van SSEG’s instel om oënskynlik sy inkomste te verhoog, moet beleidmakers, burgerregteorganisasies en waghonde verseker dat regulasies regverdig en realisties is,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings