Meer as net gholf – ’n viering van groei en gemeenskap
Deur Megan Swart

AfriForum Sakenetwerk se Bloemfontein-tak bars bykans uit sy nate uit met 45 plaaslike sakelui wat die afgelope jaar ingeskakel het om aan hierdie gemeenskapsekonomie te help bou. Om die onlangse groei te vier en plaaslike sakelui die geleentheid te gee om verder bande te smee, het die tak onlangs sy eerste gholfdag aangebied.
Nie net was elke putjie deur plaaslike ondernemings geborg nie, maar dié gholfdag was ook die eerste van sy soort waar spelers ’n kanon kon gebruik om ’n gholfbal as ’n dryfhou te skiet.
“Elke putjie het ’n unieke ervaring gebied en gesorg vir ’n onvergeetlike dag op die gholfbaan. Die kanon het egter ’n besonderse element van pret en opwinding by die dag gevoeg,” sê Marisa Kruger, voorsitter van AfriForum Sakenetwerk se Bloemfontein-tak.
Volgens Kruger was hierdie gholfdag veel meer as net ’n sportgeleentheid. Dit was ’n viering van gemeenskapsbetrokkenheid, samewerking en die krag van ’n netwerk wat voortdurend groei en ’n positiewe verskil wil maak.
“Die besluit om hierdie dag aan te bied is gedryf deur die ongelooflike groei van ons tak, die betrokkenheid van ons lede en die toenemende ondersteuning wat ons vanuit die gemeenskap ontvang. Sonder ons lede, borge, elke speler en die breër gemeenskap sou hierdie inisiatief en Sakenetwerk in geheel, eenvoudig nie moontlik gewees het nie,” sê sy.

Francis Pretorius van Elcheck het opgetree as hoofborg, terwyl The Herholdt’s Group as die goueborg gedien het en ’n belangrike bydrae tot die sukses van die dag gemaak het. Die dag is afgesluit met ’n feestelike prysuitdeling en ’n wynveiling, gelei deur Jeazanne Smith van Nico Smith Afslaers.
“Die veiling was ’n reusesukses en het die dag op ’n gepaste noot afgesluit. Hoë gehalte wyn soos Van Loveren reserwes geteken deur die vier neefs en Die Vrijburger van Akademia is onder meer opgeveil, sowel as ’n wegbreek wat geborg is deur Amanzi Wildsreservaat. Ons opregte dank aan elke onderneming en individu wat by hierdie geleentheid betrokke was,” sê Kruger.
AfriForum Sakenetwerk beywer om hierdie gholfdag ’n jaarlikse instelling te maak en die bestuur het reeds volgende jaar se geleentheid in die kalender neergepen. Meer inligting oor dié dag volg later.
AfriForum Sakenetwerk bedank graag die ondernemings, organisasies en individue wat die putjies geborg het. Dit sluit in Elcheck, The Herholdt’s Group, Destiny Wellness, Manzi Water, Smith Auto Group, die DA, Annette Kasselman, AfriForum , RT Recycling, Hennies, TBS Brokers, Red Oak, AfriForum Sakenetwerk, KWV en Mirna Butler Recruitment.



