|

AfriForum voltooi opknappingsprojek buite VSA-ambassadeurswoning

AfriForum het op 1 Julie die padmerke by ’n sirkel langs die Amerikaanse ambassadeurswoning, op die hoek van Victoria- en Premierstraat in Waterkloof, oorgeverf. Hierdie projek is vroeër vanjaar begin met die herstel van ’n reuseslaggat voor dié woning. AfriForum meen dat dié projek ter bewusmaking is van die Suid-Afrikaanse regering se nalatigheid om diplomatieke verhoudings met die VSA te herstel.

“Hierdie projek is voltooi om padveiligheid te verseker vir alle padgebruikers in die area, maar ook om opnuut die aandag te vestig op eise wat deur amptenare van die VSA-regering aan ’n Afrikaner-afvaardiging in Washington bekend gemaak is, waaraan die Suid-Afrikaanse regering gehoor sal moet gee om hul diplomatieke verhouding te herstel,” sê Maree van den Berg, assistent koördineerder by AfriForum se afdeling oor Gemeenskapstrukture.

Van die eise wat aan Suid-Afrika gestel is, is onder meer dat die Suid-Afrikaanse regering plaasmoorde as ’n prioriteitsmisdaad moet klassifiseer, privaat eiendomsreg geresprekteer moet word en dat rassebeleide vir VSA maatskappye wat in Suid-Afrika besigheid wil doen, afgeskaf moet word.

Die herstel, opknap en oorverf van die kruising langs die Amerikaanse ambassadeurswoning is beskryf as simbolies van AfriForum se pogings om Amerika te ontmoedig om gewone Suid-Afrikaanse burgers te straf vir die onregte wat deur die Suid-Afrikaanse regering gepleeg word.

“AfriForum sal aanhou om akkurate inligting te verskaf en sal aanhou om ander soortgelyke projekte aan te pak waar ons sélf die staat se werk doen,” meen Van den Berg.

AfriForum moedig die publiek aan om by die organisasie aan te sluit om soortgelyke toekomstige projekte te ondersteun.

Soortgelyke plasings