AfriForum vra Johannesburg-metro om 65% wateraanvraagbestuursheffing verhoging te verduidelik
AfriForum het op 18 Mei kommentaar ingedien oor die Johannesburgse Metropolitaanse Munisipaliteit se voorgestelde 65,6% verhoging van die wateraanvraagbestuursheffing. Die burgerregteorganisasie eis deursigtigheid met die proses wat gevolg is om die verhoging te bepaal.
AfriForum het reeds op 14 Mei ’n skrywer aan die stadsbestuurder in Johannesburg gerig om vir ’n verduideliking te vra oor hoe die verhoging bepaal is. Voorts word daar gevra vir die munisipaliteit se goedkeuring van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om die verhoging toe te pas.
“Die metro is by volle reg om ’n heffing in te stel vir ’n diens of produk wat dit veronderstel is om te befonds. In hierdie geval die wateraanvraagbestuursheffing. Daar is dus ’n heffing sodat almal in die stad op ’n redelike basis toegang tot water moet hê. Die daaglikse realiteit is egter dat krane in Johannesburg dikwels vir dae aaneen droog loop,” sê Deidre Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
Inwoners het die reg om te weet hoe die metro die hoeveelheid van die verhoging bepaal het.
Huishoudings betaal tans R65,08 (sonder BTW) vir die wateraanvraagbestuursheffing. Die verhoging is veronderstel om op 1 Julie 2026 in werking te tree waarna huishoudings R107,74 vir dié heffing sal moet opdok.
“Inwoners het die reg om te weet hoe die metro die hoeveelheid van die verhoging bepaal het. Dis ’n reuseverhoging en dit moet regverdig kan word. Die munisipaliteit bloei geld en boer agteruit. Nou moet verbruikers weer opdok om die verskil te dek,” sê Steffens.
Volgens die jongste syfers word 46,2% van Johannesburg se water as nie-inkomste-water geklasifiseer.
Volgens die jongste syfers word 46,2% van Johannesburg se water as nie-inkomste-water geklasifiseer. Die syfer sluit water in wat byvoorbeeld gratis gelewer word, maar ook waterverliese. Waterverliese beloop op sy eie 24,8%. Daar is dus omtrent ’n kwart van Johannesburg se water wat deur lekkasies en dies meer verlore gaan voordat dit nog by ’n kraan kon uitkom.
“Johannesburg Water verdien geen inkomste op byna die helfte van die water wat in die verspreidingsnetwerk ingevoer word nie, as gevolg van lekkasies, diefstal en foutiewe fakturering. Dit verteenwoordig ’n jaarlikse verlies aan inkomste van meer as R2 miljard. Hierdie fondse kon aangewend word om verouderde infrastruktuur te vervang of herstel. Om teen hierdie agtergrond tariewe te verhoog en van verbruikers te verwag om vir die munisipaliteit se wanbestuur te vergoed, is soos om te probeer om ’n emmer vol gate vol te maak deur meer en meer water daarin te tap,” sê Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Om AfriForum se hand sterker te maak in sake soos dié, word ’n lid.



